

ADVERTISEMENT:

News Date: 29 April 2011
"Ons kan elke oggend dankbaar wees as ons ons oë oopmaak en ons woon hier,” sê een van die inwoners van Laat Lente en Herfs Akker, die munisipale behuisingskompleks vir bejaardes op Louis Trichardt.
Woensdae is byvoorbeeld omtrent ‘n feesdag, want dan kook weldoeners vir elkeen in die 40 woonheenhede ‘n heerlike bord kos, kompleet met slaai . Daar word ook deur betrokkenes in die gemeenskap ‘n liter melk en ‘n warm brood verskaf. Twee dosyn eiers word maandeliks vir elke bejaarde afgelewer. Dit is maar ‘n paar van die voorbeelde van waar die gemeenskap op ‘n wonderlike wyse betrokke raak by die bejaardes in die munisipale behuising.
Deesdae is daar ook ‘n verbetering in die tuine te bespeur. Nie alleen het die Soutpansberg Dorpswag en Tafelronde 66 op 19 Februarie ingespring met ‘n skoonmaakpoging nie, maar ‘n omgeegroep van die NG Kerk Soutpansberg borg ook nou tuindienste twee maal per maand. Elke tikkie hulp word waardeer.
Een doring in die vlees is egter die veiligheidshek wat kort-kort breek. Dié hek is jare gelede deur die Rotariërs aangebring om te help met die sekuriteit en veiligheid van die bejaardes. Elke huis het ‘n telefoon na die hek en die hek kan van binne af oopmaak. Die hek haak dan by tye vas weens misbruik by die interne oop- en toemaak. In ‘n stadium het dit die gebruik geword dat die hek bedags oopstaan en saans nege-uur toegemaak word. “Die hek funksioneer net by tye,” het een inwoner opgemerk. Die inwoner wil anoniem bly omdat openbare opmerkings onpopulariteit tot gevolg het.
Wanneer die hek snags oopstaan, skep dit ‘n veiligheidsrisiko vir die bejaardes. Sommige bejaardes se voertuie se veilgheid is van so ‘n aard dat die buitehek die vernaamste sekuriteit vorm.
Daar was klagtes dat die hek die afgelope twee weke nie reg gewerk het nie. Maandag (25ste) om 21:30 is die hek se stand ondersoek. Wat ‘n gerusstelling dat die hek toe gevind is! Dit het ook gladweg oop en toe geskuif soos wat ‘n inwoner dit van binne beheer het.
“Wat ‘n plesier dat die hek vir ‘n slag werk. Ons kan net nie sê vir hoe lank dit gaan werk nie,” het ‘n ander inwoner hierdie week gesê. Verskeie organisasies en persone het al ingespring en die hek kom regmaak.
Meer as een organisasie het egter daarna besluit hulle trek skouers op wat die hek aanbetref, omdat inwoners self vir die gedurige breek van die hek verantwoordelik is. Mnr. Dirk Meissenheimer van die Dorpswag het ten einde laaste ‘n bord aan die binnekant van die hek aangebring. Die bord lees “Hierdie hek is van nou af die verantwoordelikheid van die inwoners. Enige probleem kontak die inwoners. Dankie. Dirk.”
Die inwoners van Laat Lente en Herfs Akker het tans geen komitee wat vir hul sake verantwoordelikheid neem nie. Hierdie week is bevestig dat die nie-amptelike komitee ontbind het.
Van die inwoners het al gehoop dat daar ‘n beheerliggaam van buitepersone tot stand kan kom om te help om netelige sake uit te stryk, reëls neer te lê waarby inwoners moet hou en hul sake te help behartig.
Linda van der Westhuizen has been with Zoutnet since 2001. She has a heart for God, people and their stories. Linda believes that every person is unique and has a special story to tell. It follows logically that human interest stories is her speciality. Linda finds working with people and their leaders in the economic, educational, spiritual and political arena very rewarding. “I have a special interest in what God is doing in our town, province and nation and what He wants us to become,” says Linda.

ADVERTISEMENT:
