

ADVERTISEMENT:

News Date: 29 April 2011
Vir die eerste keer in die geskiedenis kan kiesers vir spesiale stemme registreer tydens die komende munisipale verkiesings.
Die proses sal aan kiesers wat nie op stemdag by ‘n stemlokaal kan uitkom nie, ook die kans gee hul kruisie te gaan trek. Volgens die Onafhanklike Verkiesingskommissie (OVK) is daar besluit op spesiale stemme “om alle Suid-Afrikaners ‘n kans tee gee om hulle stem te laat hoor.”
Helaas, volgens plaaslike kiesers is die registrasieproses wat betref spesiale stemme uiters ontoereikend, veral vir bejaarde kiesers.
‘n Bejaarde inwoner, wat anoniem wil bly, het Dinsdag by die Zoutpansberger kom kla oor die onvriendelike behandeling wat sy by die OVK-takkantoor op Louis Trichardt ontvang het.
Volgens die inwoner het sy aangebied om namens verskeie ander kiesers in die kompleks waar sy woon tien registrasievorms by die OVK se kantoor te gaan haal. Die vorms was ondermeer vir haar 93-jarige pa, wat swaar loop, en ‘n vriendin van haar wat ‘n poliolyer is.
“Ek het net drie vorms gekry en hulle het geweier om nog vir my te gee,” het die vrou gesê. Die strooihalmpie wat die kameel se rug gebreek het, was egter toe die OVK haar vriendin by die verkeerde kiesstasie geregistreer het en nie by haar huis, soos dit op die vorm aangedui is nie.
Die OVK is genader oor dié dilemma, veral aangesien die OVK se webblad dit duidelik stel dat enige persoon ‘n registrasievorm namens ‘n ander persoon mag indien, veral as die persoon gestremd is.
‘n Vroulike beampte in diens van die OVK het ontken dat hulle vorms weier aan mense en gesê mense kan net afskrifte maak van die vorms as hulle nog nodig het. Sy het geweier om haarself te identifiseer.
Oor adresse het die OVK glo ook nie beheer nie, want dit word gekoppel aan jou ID-nommer. Volgens die beampte word ‘n kieser se ID in die stelsel ingevoer en die adres wat deurgegee word, is die kiesstasie. Dit is ten spyte daarvan dat kiesers op die registrasievorm kan aandui dat hulle “weens hulle gestremdheid nie na die kiesstasie kan reis nie en aansoek doen om ‘n spesiale stem te bring by die residensiële adres binne sy stemdistrik.” Omdat die kiesersrol nou gesluit is, kan kiesers ook nie meer hulle adresse verander nie.
Plaaslike kiesers wat wil registreer vir spesiale stemme op 16 Mei het nog kans tot 17:00 op Dinsdag, 3 Mei om te registreer. Die registrasievorm kan by die OVK se kantore, agter die Makhado Munisipaliteit, afgehaal word of by www.elections.org.za afgelaai word.

ADVERTISEMENT:
