

ADVERTISEMENT:

News Date: 06 May 2011
Die skokkende weglating van alle DA-kandidate van Musina op die amptelike lys van kandidate wat in die munisipale verkiesing mag staan, het baie vrae laat ontstaan. Dit blyk dat die dokumentasie te laat ingehandig is.
Die provinsiale DA-leier, me. Desiree van der Walt, het DA-lede egter verseker dat daar steeds na hulle belange omgesien sal word.
“Ek is woedend oor die affêre. Daar is nou geen DA-kandidate om voor te stem nie. In Wyk 6 het die onafhanklike kandidaat spesiaal teruggestaan vir die DA. Die mense wat ‘n verskil kan maak, het nou geen inspraak vir die volgende paar jaar nie,” het een kieser gesê.
In die vorige munisipale verkiesing in 2006 het die Demokratiese Alliansie Wyk 6 verower. Dié wyk sluit Musina se besigheidsentrum en residensiële area in. DA-raadslid Johann Elllis het die wyk die afgelope vyf jaar in die Raad verteenwoordig. Die DA het twee proporsionele verteenwoordigers op die Musina Munisipale Raad gehad.
“Waarom gebeur dit nou? En juis met die DA wat ‘n wyksraadslid gehad het. Die gemeenskap is geskok. Ons was besig met ‘n deur-tot-deur-kampanje toe die nuus ons bereik het dat die DA nooit geregistreer is nie,” het me. Joey Tloe gesê. Tloe sou die DA-wykskandidaat vir Wyk 3 in Musina wees.
Elke party wat in die munisipale verkiesing of in ‘n wyk wou staan, moes ‘n kandidatelys vir hul party en ondersteunende dokumentasie by die plaaslike verkiesingskantoor inhandig voor 17:00 op Vrydag, 25 Maart.
Slegs een persoon van ‘n party word afgevaardig om dié belangrike dokumentasie in te handig. In die geval van die DA was dit die taak van Raadslid Pondo Mulaudzi, wat nommer drie op die DA-kandidatelys was. Van der Walt het Maandag bevestig dat die Onafhanklike Verkiesingskomitee die party se dokumentasie drie minute laat ontvang het en dat daar gevolglik geen kandidate van die DA in die munisipale verkiesing in Musina mag staan nie.
“Dit is ‘n baie ongelukkige voorval wat deur die DA op nasionale vlak ondersoek word. Ons vra die DA-kiesers van Musina om verskoning, maar verseker hulle dat ons hulle geensins aan hulle eie lot gaan oorlaat nie. As Lid van die Provinsiale Raad op die komitee vir plaaslike regering sal ek steeds na hulle belange omsien ná 18 Mei. Die DA-tak sal steeds funksioneer en vergader en dienslewering bevorder. By die volgende tussenverkiesing of verkiesing sal die DA seker maak dat daar nie weer so iets gebeur nie,” het me. Van der Walt gesê.
Daar is bespiegelinge dat die hele voorval doelbewus plaasgevind het. Raadslid Mulaudzi, aan die ander kant, sê dat hy vóór vyf by die OVK kantoor opgedaag het en dat die personeel daar besig was om die PAC se dokumentasie te ontvang. “Ek was twee minute voor vyf daar en die deur was steeds wawyd oop,” het Mulaudzi gesê. Hy sê dat hy nog die middag besig was om na verskillende areas te ry om plakkate af te lewer.
Die ondersoek na die saak is ‘n lang en ingewikkelde proses en uitslag word nie gou verwag nie.
Ellis, wat onder normale onstandighede ‘n uitstekende kans gestaan het om weer Wyk 6 te wen, het hierdie week van oorsee teruggekeer. Ellis, ‘n prokureur op die dorp, het laat weet dat hy moontlik in ‘n later stadium kommentaar sal lewer.
Die kandidate wat vir Wyk 6 gaan staan is Michael Binge Kanyongolo (ACDP), Sewani James Kaunda (ANC), Makwena Justice Ranoto (COPE) en Matodzi Katie Kwinda (PAC).
Linda van der Westhuizen has been with Zoutnet since 2001. She has a heart for God, people and their stories. Linda believes that every person is unique and has a special story to tell. It follows logically that human interest stories is her speciality. Linda finds working with people and their leaders in the economic, educational, spiritual and political arena very rewarding. “I have a special interest in what God is doing in our town, province and nation and what He wants us to become,” says Linda.

ADVERTISEMENT:
