

ADVERTISEMENT:

News Date: 06 May 2011
Hy het altyd ‘n glimlag op sy gesig gehad, was altyd vriendelik en het altyd tyd gehad om ‘n geselsie met iemand aan te knoop.
So sal inwoners van die Soutpansberg vir die 38-jarige Johan Mulder onthou wat laat Woensdagmiddag, 27 April, op die Louis Trichardt/Levubu-pad verongeluk het.
Johan was vanaf Johannesburg na Levubu onderweg om bietjie vir die langnaweek by sy kinders, die 13-jarige MJ en 10-jarige Joane, te kom kuier.
Net anderkant die Royal Macadamia-fabriek het Johan op ‘n skerp draai egter beheer verloor oor sy voertuig. Die voertuig het die pad verlaat, teen ‘n boom gebots en omgeslaan. Johan is op slag dood.
Wyle Johan, of Chappie soos sy vriende en familie hom geken het, het saam met suster Elsabé grootgeword op Levubu, eers as leerlinge van Laerskool Levubu en toe as leerlinge van Hoërskool Louis Trichardt. Hy het in 1991 matriek voltooi, waarna hy vir lank op Levubu geboer het. Aan die begin van 2011 het hy egter vir besigheid na Gauteng verhuis.
Wyle Johan is Dinsdagoggend vanuit die NG Kerk Levubu-gemeente begrawe. Die diens is waargeneem deur ds. Philip Venter by wie Johan gekatkiseer het en met wie hy nooit kontak verloor het nie. Die teraardebestelling is behartig deur ds. Petrus Kriel.
Dit is duidelik dat Johan se dood ‘n groot leemte in sy familie en vriendekring gaan los. “Hy het ‘n sagtheid in hom gehad en wou altyd ander mense probeer help,” het Elsabé opgemerk. Hy word oorleef deur sy ma, suster en twee kinders.
Die familie het hul dank en waardering uitgespreek teenoor al die familie en vriende vir hul ondersteuning in hul tyd van hartseer. Spesiale dank gaan egter aan Dries en Gerda van Martin’s Funerals vir die spesiale moeite, ds. Venter en ds. Kriel, Ons Tuiste vir die spesiale aandag met tannie Elsje en die NG Kerk Levubu-gemeente wat gehelp het met die begrafnisreëlings en eetgoed.
Andries joined the Zoutpansberger and Limpopo Mirror in April 1993 as a darkroom assistant. Within a couple of months he moved over to the production side of the newspaper and eventually doubled as a reporter. In 1995 he left the newspaper group and travelled overseas for a couple of months. In 1996, Andries rejoined the Zoutpansberger as a reporter. In August 2002, he was appointed as News Editor of the Zoutpansberger, a position he holds until today.

ADVERTISEMENT:
