

ADVERTISEMENT:

News Date: 06 May 2011
Vir pa Willem de Beer van Louis Trichardt was dit ‘n trotse dag toe hy saam met sy jongste dogter, Terri-Lee, die afgelope naweek haar huwelik in Pretoria kon vier, maar sy vreugde was van korte duur met die nuus dat inbrekers in sy afwesigheid sy huis geplunder het.
Willem, verbonde aan die plaaslike verkeersafdeling, is reeds vroeg Vrydagoggend, 29 April, stad toe om gereed te maak vir die groot dag. Hy het vir ‘n vriend, mnr. George Machozhi, gevra om ‘n bietjie ‘n oog te hou oor sy huis in Munnikstraat.
Saterdagaand, te midde van die onthaal en feestelikhede, merk hy ‘n dringende SMS van George op en kort daarna die nuus: “Hulle het by jou ingebreek!” Die inbraak het blykbaar Vrydagaand al plaasgevind. Noodgewonge moes Willem sy kuier kortknip en het Sondag teruggery. Intussen het George tydelike slotte by die huis aangebring.
Dit was die derde keer in drie maande dat Willem deurgeloop het. Die vorige twee kere is daar om sy huis en uit sy motorhuis geplunder, maar dié keer het hulle by sy huis ingekom. Verskeie buitevensters, met stewige diefwering, is uitgeslaan.Toegang is deur ‘n sydeur bekom wat oopgeforseer is. Binne die huis is kaste uitgegooi, sekuriteitsdeure oopgeforseer of oopgesny en selfs sy yskas is leeggemaak.
Met die eerste oogopslag het hy sy grootskerm televisie, DVD-speler en duur hoëtroustel vermis. Sy kluis is ook met geweld oopgeforseer. Te midde van die skok oor die inbraak het die ondersoekbeampte in die saak se houding, volgens Willem, vir hom as groter skok gekom.
Die polisiebeamptes wat aanvanklik Saterdag uitgekom het nadat George die inbraak gerapporteer het, was volgens George heel beleefd. Hulle kon egter nie ‘n verklaring neem nie, aangesien Willem as huiseienaar nie tuis was nie. Die polisiebeamptes wat hom Sondagmiddag besoek het was, volgens Willem, minder beleefd.
“Met hulle [ondersoekbeamptes] aankoms het hulle vir my gesê ek moet ‘n verklaring maak. Ek het vir hulle gesê ek kan nie, want ek weet nog nie wat alles weg is nie,” sê Willem. Hierop, beweer Willem, is hy deur die ondersoekbeamptes toegesnou dat hy nie só ‘n verklaring kon maak nie. Toe Willem hom daarna vra of daar vingerafdrukke geneem gaan word, is hy meegedeel dat hulle nie die naweek werk nie.
“Dit is toe dat ek vir hom sê dit werk nie so nie. Dit is die derde keer dat hulle by my inbreek. Nou sê hulle die vingerafdrukmense werk nie, so niks gaan gedoen word nie,” sê Willem.
Willem sê hy het die beampte mooi vertel wat hy van sy houding dink, waarna die beampte se houding verander het en vroeg Maandagoggend is hy wakker geklop deur die vingerafdrukmense.
“Hoekom moet mens eers baklei voordat iets gedoen word. G´n wonder mense wil nie eers meer die moeite doen om misdaad te rapporteer nie,” het Willem gesê. Sowat R25 500 se goedere is gesteel, buiten die skade wat aangerig is. Dit is ‘n bitter pil vir Willem om te sluk, aangesien hy nie versekering het nie.
Plaaslike polisiewoordvoerder kapt. Maano Sadike het by navraag gesê dat hy nie kan kommentaar lewer op die beampte se beweerde houding nie, aangesien hulle eers sal moet ondersoek instel oor wat presies gebeur het. Tog het hy genoem dat dit lede van die publiek vrystaan om klagte van swak dissipline van polisiebeamptes direk aan die stasiebevelvoerder, kol. Francois Ramovha, te rapporteer.
Wat betref die opmerkings dat die polisie se vingerafdrukeenheid nie die naweek gewerk het nie, het Sadike gesê dit is eenvoudig nie waar nie. Hy het verduidelik dat dit alreeds laatmiddag was en weens die ondersoekproses wat die vingerafdrukmense gebruik is dit vir hulle beter om gedurende die dag vingerafdrukke te lig. Sadike het die argument oor die neem van die vingerafdrukke toegeskryf aan ‘n moontlike kommunikasiegaping tussen die beampte en die klaer.
Andries joined the Zoutpansberger and Limpopo Mirror in April 1993 as a darkroom assistant. Within a couple of months he moved over to the production side of the newspaper and eventually doubled as a reporter. In 1995 he left the newspaper group and travelled overseas for a couple of months. In 1996, Andries rejoined the Zoutpansberger as a reporter. In August 2002, he was appointed as News Editor of the Zoutpansberger, a position he holds until today.

ADVERTISEMENT:
