

ADVERTISEMENT:

News Date: 13 May 2011
Amper 10 jaar later is die man wat daarvan verdink word dat hy ‘n bekende boer van Pontdrif vermoor het, uiteindelik aan Suid-Afrika uitgelewer.
Die 36-jarige Dennis Moyo is in Mei 2002 na Zimbabwe gedeporteer, na die aanklagte teen hom voorlopig teruggetrek is. Hy is op 16 Mei op Sezani in Zimbabwe aangekeer, kort ná die moord op mnr. Rudi Schmidt (51) op 11 Maart 2002.
Destyds is daar berig oor dié moord, wat die Pondrift-boeregemeenskap in sy fondamente geskud het. Volgens inligting is Schmidt en sy vrou, Corlia, na bewering deur Moyo in die vroeë oggendure in hul plaaswoning oorrompel.
´n Struweling het glo tussen Schmidt en Moyo ontstaan, waartydens Schmidt noodlottig gewond is. Kort na Schmidt se begrafnis is Moyo deur die polisie se Ernstige Geweldsmisdaadeenheid in Zimbabwe gearresteer en oor die grens tussen Suid-Afrika en Zimbabwe gebring vir ondervraging. Moyo moes egter inderhaas teruggestuur word na sy geboorteland, omdat die polisie glo nie die regte prosedure gevolg het ten opsigte van die uitleweringsooreenkoms tussen Suid-Afrika en Zimbabwe nie.
Nou, op ‘n week ná nege jaar, is Moyo verlede week in Botswana opgepik en aan die Suid-Afrikaanse owerhede uitgelewer om tereg te staan op die aanklagte teen hom. Moyo het Donderdag in die streekslanddroshof op Louis Trichardt verskyn op ´n klag van moord, huisbraak met die opset om te roof en roof met verswarende omstandighede.
Moyo se uitlewering kan egter ly tot ´n dramatiese wending wat die ondersoek rondom Schmidt se moord betref. Tydens Moyo se eerste arrestasie het hy na bewering sy aandeel in die voorval ontken en gesê Corlia het hom geld aangebied om haar man te vermoor.
Moyo se saak is uitgestel tot 9 Junie, sodat ‘n Hooggeregshofdatum vasgestel kan word. Hy sal in aanhouding bly tot dan.
Isabel joined the Zoutpansberger and Limpopo Mirror in 2009 as a reporter. She holds a BA Degree in Communication Sciences from the University of South Africa. Her beat is mainly crime and court reporting.

ADVERTISEMENT:
