ADVERTISEMENT:

 

Geen gare vir operasies by hospitaal

 

News  Date: 20 February 2004

 

MAKHADO (LOUIS TRICHARDT) - Die vreesaanjaende gedagte om as pasiënt in 'n teater te lê en daar is nie gare beskikbaar om jou wond toe te werk nie, is dalk nie so vergesog nie.

Eweneens is dit vir 'n dokter 'n senutergende situasie om in 'n teater 'n tekort aan noodsaaklike middels te ondervind. Dokters wat diens doen by die Louis Trichardt Gedenkhospitaal ondervind na bewering die afgelope tyd al hoe meer probleme met onontbeerlike middels in die teater. 'n Groot probleem wat genoem word, is die gare wat benodig word om in die geval van 'n keisersnit die wond toe te werk. Verskeie dokters het te staan gekom voor die angswekkende moontlikheid van 'n noodkeisersnit sonder gare om die wond toe te werk. As noodmaatreël moes dokters hul eie gare verskaf of by 'n ander dokter leen en saambring teater toe.

"'n Boksie met tien garings in kos meer as R1 000," het een van die dokters hierdie week opgemerk.

Ander klagtes het ingesluit 'n tekort aan narkose- en skoonmaakmiddels in die teater. Die kragopwekker vir die lugreëling in die teater om die lug van bakterieë te suiwer, is ook kort-kort buite werking.

"Die rede wat aan ons gegee word vir die gebrek aan middels, is dat die owerhede nie die verskaffers betaal nie. Die middels is wel deur die plaaslike hospitaal bestel, hoewel ek nie weet of dit altyd betyds bestel word nie," het 'n dokter gesê.

Die superintendent van die plaaslike hospitaal, dr. S. Nemutandani het hierdie week erken dat daar 'n probleem was met gare in die teater. Sekere tipes gare was uit voorraad.

"Dit is 'n algemene probleem by hospitale. Die probleem met die gare is opgelos en as dokters hulle eie gare bring, dan is dit onwettig," het dr. Nemutandani gesê. Hy het verder gesê dat ander tekorte nie onder sy aandag gekom het nie en dat in gedagte gehou moet word dat sekere dokters sekere middels verkies wat miskien uit voorraad mag wees.

Dr. Nemutandani het ontken dat daar enige waarheid in die gerugte steek dat die owerhede verskaffers nie betaal nie. Hy het gesê dit is 'n geval van "back orders" waar die verskaffers uit voorraad is.

Dr. Nelly Manzini, hoof van die Departement van Gesondheid en Welsyn op Polokwane het Woensdag gesê dat daar wel 'n oplossing vir die probleem van voorrade is.

"Die bestuur van 'n hospitaal moet toesien dat voorrade betyds bestel word sodat daar nie 'n tekort ontstaan nie. As daar probleme is met bestellings, is daar meganismes in plek en moet die hoër outoriteite daarvan verwittig word."

Manzini sê dat die sisteme gekonnekteer is en dat die departement sou kon sien dat voorrade uitgeput raak, maar dat dit die plaaslike hospitaal is wat die bestelling moet uitreik. Die sisteem sou ook kon uitwys as betalings aan verskaffers nie op datum is nie.

'n Woordvoerder van die kantoor van die LUR van Gesondheid en Welsyn, mnr. Matsheta, het gesê dat daar slegs van een verskaffer gebruik gemaak word en dat die betaling aan die verskaffer op 'n konstante basis plaasvind.

Die hele situasie het die vermoede versterk dat alles nie wel is binne die provinsiale departement van gesondheid en welsyn nie. Administratiewe onbekwaamheid en 'n onvermoë om tydig voorsiening te maak vir komende probleme skyn tergende probleme te wees.

Dr. Manzini het gesê dat die departement aksie neem in die vorm van advies aan die plaaslike hospitaal. Sy het ook gesê dat daar geen rede is vir voorraadprobleme nie, aangesien vir elke probleem 'n oplossingsmeganisme in plek is. Verder sê dr. Manzini dat die departement daar is om bystand te verleen, om te luister na klagtes en om dienslewering te verbeter.

 

Written by

Linda van der Westhuizen

Linda van der Westhuizen has been with Zoutnet since 2001. She has a heart for God, people and their stories. Linda believes that every person is unique and has a special story to tell. It follows logically that human interest stories is her speciality. Linda finds working with people and their leaders in the economic, educational, spiritual and political arena very rewarding. “I have a special interest in what God is doing in our town, province and nation and what He wants us to become,” says Linda.

 

ADVERTISEMENT:

 

Recent Headlines