

ADVERTISEMENT:

News Date: 20 May 2011
Die saak teen twee mans wat daarvan beskuldig word dat hulle in 2009 die 24-uur kiosk by Bridge Motors op Louis Trichardt beroof het, was nie sonder drama nie. Een is verlede Vrydag skuldig bevind en gevonnis in die streekhof op Louis Trichardt.
Gedurende die twee mans se verhoor het een sy eie lewe probeer neem, terwyl die ander beskuldigde kort hierna vanuit polisieaanhouding ontsnap het.
Die twee mans, Steven Shorty Chauke (28) en Brighton David Moley Chauke (24), albei van Zimbabwe, is in Mei 2009 vasgetrek in verband met ‘n reeks gewapende rooftogte op Louis Trichardt. Hulle verhoor het in Augustus 2010 begin. Altwee het onskuldig gepleit op die drie aanklagte van gewapende roof met verswarende omstandighede teen hulle.
Shorty en Brighton het na bewering op 22 April 2009 die kiosk by Palm Motors ook beroof en net drie dae later, op 25 April, toegeslaan by die kiosk by die Caltex-vulstasie langs die N1.
Hierna het hulle op die kiosk by Bridge Motors toegeslaan. In die geval van die Caltex- en Bridge-rooftogte is albei voorvalle op sekuriteitskameras vasgevang. In die videos kan die twee trawante duidelik gesien word, terwyl hulle ongemaskerd die winkel binnekom, ‘n vuurwapen uitpluk en op die kassier rig. In die geval van Palm Motors het hulle sowat R1 600 gebuit, terwyl hulle onderskeidelik nagenoeg R10 000 en R R8 000 by die Caltex- en Bridge-vulstasie gesteel het. Tydens die twee se arrestasie, kort ná die derde roof, is ‘n groot hoeveelheid kontant, asook ‘n onwettige vuurwapen en ammunisie, in hul besit gevind.
Dit het ook tydens die twee se verhoor aan die lig gekom dat Shorty glo die vuurwapen in Musina gesteel het en dit word nou ballisties verbind met ‘n moord op dié grensdorp. Teen druktyd moes ‘n Hooggeregshofdatum nog vasgestel word vir hierdie nuwe klag teen Shorty.
Tydens Vrydag se hofverskyning is Shorty skuldig bevind op al drie klagte en tot 15 jaar gevangenisstraf gevonnis op elke klag. Die hof het gelas dat die tronkstraf nie samelopend uitgedien moet word nie.
Intussen verkeer Brighton nog op vrye voet, nadat hy verlede jaar vanuit polisie-aanhouding ontsnap het. Die Suid-Afrikaanse en Zimbabwiese polisie soek steeds na hom, nadat hy op 4 Oktober saam met vier mede-gevangenis vanuit die Musina polisiestasie ontsnap het. Hulle het glo in die vroeë oggendure ontsnap deur die tralies voor die venster weg te vyl. Daar word vermoed dat al vyf verdagtes terug is na Zimabwe.

ADVERTISEMENT:
