

ADVERTISEMENT:

News Date: 20 May 2011
‘n Fratsongeluk het Donderdag, 12 Mei, die lewe geëis van die bekende mnr. Frik Nel (71) van Nel Dakke op Louis Trichardt.
Die nuus van sy skielike dood het vir die Soutpansberg-gemeenskap as groot skok gekom.
Die ongeluk het in Shayandima plaasgevind. Oom Frik, soos almal hom geken het, is deur ‘n onderneming ontbied om ‘n kwotasie te kom gee vir die herstel van ‘n dak. Hy en ‘n werknemer van die onderneming het besluit om ‘n vurkhyser te gebruik om bo-op die vier-meter-hoë dak te klim.
Toe hulle die dak bereik, het die werknemer afgeklim. Met dié het die vurkhyser gekantel, en Oom Frik het sy balans verloor en na die grond getuimel. Hy is op slag dood met die valslag.
Oom Frik, sy vrou Sougnet en seuns Johan en Roelof, het in 1984 na Louis Trichardt verhuis. Deur die jare het hy vir homself naam gemaak in die boubedryf, spesifiek wat betref die herstel van dakke. Met sy vriendelike bereidwilligheid om altyd te help, is daar bitter min inwoners wat Oom Frik nie geken het nie.
So het baie inwoners saam met die familie getreur met die nuus van hul seun, Johan, se dood in ‘n motorongeluk buite Brits in September 2008. Tog was hul seun se dood nie die einde van hul hartseer nie, nadat die Staat daarin kon slaag om hul seun se oorskot te “verloor”. Hierna volg ‘n verbete stryd van meer as ‘n jaar vir die egpaar om hul seun se oorskot weer op te spoor. Dit was te midde van hierdie stryd dat Oom Frik as voorbeeld gedien het vir ander om nooit hoop te verloor en moedeloos te raak nie. Johan se oorskot is opgespoor en in September 2009 kon die egpaar hul seun ‘n finale rusplek gee.
“Altyd ondersteunend, hulpvaardig … soms kwaai, maar met ‘n sagte hart”. So onthou sy seun, Roelof, sy pa.
“Hy het altyd tyd gehad om gou-gou by iemand in te draf en bietjie te gesels. Hy het baie mense gehelp. As dit nie met geld was nie, was dit met daad,” sê Sougnet.
‘n Roudiens vir wyle Oom Frik is Dinsdag (17de) vanuit die NG Kerk Moedergemeente op Louis Trichardt gehou. Die diens is waargeneem deur ds. Jan Pretorius. Sy oorskot sal later saam met dié van sy seun in die Muur van Herinnering op die kerkterrein geplaas word.
Die familie het hul dank uitgespreek teenoor almal wat hulle ondersteun of kos gebring het in hul tyd van hartseer. ‘n Spesiale woord van dank het gegaan aan Charles Skeen en Pieter Nel (broer) vir alles wat hulle op die ongelukstoneel gedoen het. Dank gaan ook aan Johan Nel (broer), wat spesiaal vanaf Kanada gevlieg het vir die roudiens. Roelof self het vanaf Amerika, waar hy en sy vrou Anne woon, gevlieg om sy ma vir die volgende paar weke by te staan.
Andries joined the Zoutpansberger and Limpopo Mirror in April 1993 as a darkroom assistant. Within a couple of months he moved over to the production side of the newspaper and eventually doubled as a reporter. In 1995 he left the newspaper group and travelled overseas for a couple of months. In 1996, Andries rejoined the Zoutpansberger as a reporter. In August 2002, he was appointed as News Editor of the Zoutpansberger, a position he holds until today.

ADVERTISEMENT:
