

ADVERTISEMENT:

News Date: 20 May 2011
Waarom moet elke waterlek en dreinprobleem in ‘n nimmereindigende gebellery na die munisipaliteit ontaard? Terugvoer ontbreek of is sinlose lippediens en steeds borrel die water, hetsy skoon of riool….
Dit was die ondervinding van sakemanne mnr. Willem Olivier van Cableman in Kortstraat, Louis Trichardt, en sy buurman, mnr. William Mashau van Super Clean Car Wash, wat aan mnr. Nelson Mabogo behoort.
‘n Waterlek langs hulle persele het Vrydag, 13 Mei, soveel drinkwater vermors dat daar naderhand ‘n dam water op die leë erf oorkant ontstaan het. Die persele is in Kortstraat aan die westekant, by die verlenging van Vleistraat.
Mnr. Olivier het Vrydagoggend die munisipaliteit gebel en die lek gerapporteer. “Hulle het my vyf verskillende nommers gegee om te skakel. Maandag het die water steeds geloop. Ek het weer geskakel en drie nommers gekry om te bel. Dit was voor 08:00. Die derde persoon het gesê hulle stuur iemand 08:00 uit. Om 10:00 het ek weer gebel en dit was dieselfde storie. Ek het na 14:00 weer geskakel en het twee nommers gekry om te bel. Die laaste persoon het gesê hulle stuur onmiddellik iemand uit. Dinsdagoggend het ek weer gebel…” sê Olivier.
Op die hoek van Kort- en Vleistraat het werkers begin grawe. Dinsdag voor 13:00 het hulle padgegee en later die middag teruggekeer. Daar het ook ‘n bakkie van die munisipaliteit gestop. Dit was net nadat die munisipale woordvoerder, mnr. Louis Bobodi, per sms laat weet het dat die munisipaliteit aandag skenk aan die probleem.
Die twee Willems het oorgestap na die bakkie, waarna die bestuurder onmiddellik in sy voertuig geklim het en weggery het. William het met die werkers gepraat en gesê dat die water eintlik aan die westekant in Vleistraat uitloop. “Hulle het vir my gesê dat hulle werksopdrag die ander hoek aangedui het,” het Mashau gesê. Olivier het weer na die waterlek gestap en die water het steeds gevloei.
Die sakemanne is begaan oor die vermorsing van water, alhoewel dit hulle nie direk raak nie. Wat hulle egter direk raak, is die probleem met die drein op die perseel self. In Julie 2008 het die riool op die sakeperseel begin uitborrel en so ‘n nagmerrie veroorsaak dat daar berigte in die koerant daaroor verskyn het op 1 Augustus, 12 September en 31 Oktober.
“Die afgelope ses maande het ons weer ‘n erge probleem met die drein en ek het seker al ‘n paar honderd keer geskakel. Hierdie is nie alleen my besigheidsperseel nie, maar ook my woonperseel. Wanneer die drein opstoot, kan jy nie hier lewe nie,” sê Olivier. Mashau voeg by dat hy nou keelvol is vir die munisipaliteit wat nie aandag aan die rioolprobleem gee nie.
Ten einde laaste het Olivier sowat twee weke gelede ‘n privaatmaatskappy gekry om die drein leeg te pomp. Na twee weke borrel die riool al weer uit en begin ‘n dam vorm. Dinsdag (17de) het die munisipale woordvoerder volgehou dat die munisipaliteit na Kortstraat 14 uitgegaan het om die probleem aan te spreek.
“Daar was slegs die persoon in die munisipale bakkie wat oorkant in Vleistraat gestop het en weggejaag het toe ons met hom wou praat. Niemand het aan die drein aandag gegee nie,” het Olivier gesê.
Linda van der Westhuizen has been with Zoutnet since 2001. She has a heart for God, people and their stories. Linda believes that every person is unique and has a special story to tell. It follows logically that human interest stories is her speciality. Linda finds working with people and their leaders in the economic, educational, spiritual and political arena very rewarding. “I have a special interest in what God is doing in our town, province and nation and what He wants us to become,” says Linda.

ADVERTISEMENT:
