ADVERTISEMENT:

 

DA raap wyk voor ANC se neuse op

 

News  Date: 27 May 2011

 

Die Demokratiese Alliansie het geskiedenis in Louis Trichardt gemaak deur Wyk 21 van die Makhado Munisipaliteit voor die neuse van die regerende party weg te raap. Brian du Plooy is die nuwe wyksraadslid vir Wyk 21.

In Wyk 20 het Vincent Mhladisa van die ANC gewen, nadat die DA wykskandidaat, Zaheera Jooma, loshande by die skousaal voorgeloop het. Vleifontein het oorwegend ANC gestem, wat die telling in Mhladisa se guns geswaai het met net 432.

In Wyk 21 was die voorsprong op die stemme 290. Wyk 21 bestaan uit Louis Trichardt wes van die N1 en Tshikota.

Die burgemeester, raadslid Mavhungu Luruli, is genader om as politieke hoof op die verkiesing kommentaar te lewer. Raadslid Luruli het by monde van die munisipale woordvoerder die geleentheid van die hand gewys en gesê dat sy na die eerste raadsvergadering op 2 Junie kommentaar sal lewer.

Die algemene gevoel onder inwoners is dat die tyd van mooipraatjies nou verby is en dat wyksraadslede nou moet sorg vir dienslewering.

Du Plooy het op Maandag gesê dat sy eerste stap is om die gemeenskappe wat hy bedien, te raadpleeg. “Binne die volgende paar weke wil ons vasstel wat hulle behoeftes is en dan kyk dat daar dienslewering is. Gemeenskappe moet die behoeftes prioritiseer en dan moet ons kyk dat dit vervat word in die geïntegreerde ontwikkelingsplan en die begroting,” het Du Plooy gesê.

Beide Louis Trichardt en Tshikota se grootste probleme, soos du Plooy dit in hierdie stadium sien, is watertekorte, rioolprobleme en die toestand van die paaie.

“Ons is verheug dat ons ‘n wyk gewen het; die DA het baie hard gewerk. Ek wil graag dankie sê aan almal wat gaan stem het en in die besonder dankie aan almal wat hul ondersteuning aan die DA gegee het,” sê Du Plooy.

Mhladisa, van Wyk 20, het Dinsdag gesê dat hy eers met die media sal praat nadat hy ingesweer is as raadslid, wat tydens die eerste raadsvergadering sal gebeur. Mhladisa het belowe om die volgende dag, Vrydag 3 Junie, met die media te praat.

Jooma, wat die DA wykskandidaat in die verkiesing was, sê dat die DA die rol van waghond sal aanneem, ook vir Wyk 20.

 

Written by

Linda van der Westhuizen

Linda van der Westhuizen has been with Zoutnet since 2001. She has a heart for God, people and their stories. Linda believes that every person is unique and has a special story to tell. It follows logically that human interest stories is her speciality. Linda finds working with people and their leaders in the economic, educational, spiritual and political arena very rewarding. “I have a special interest in what God is doing in our town, province and nation and what He wants us to become,” says Linda.

 

ADVERTISEMENT:

 

Recent Headlines