ADVERTISEMENT:

 

Laaste minuut stormloop om ID-boeke te kry

 

News  Date: 27 May 2011

 

Danksy die Departement van Binnelandse Sake wat verlede Woensdag oop was, kon die laatslaapers in die streek nog hulle kruisie gaan trek in die munisipale verkiesings.

Nagenoeg 2 000 kiesers het tot op die nippertjie gewag om hulle identiteitsdokumente, die belangrikste dokument tydens verkiesings, te gaan afhaal.

Volgens die Minister van Binnelandse Sake, dr. Nkosazana Dlamini Zuma, het 20 765 Suid-Afrikaners landswyd hulle ID-boekies kom afhaal. Sy het dié syfers bekend gemaak tydens ‘n perskonferensie verlede Donderdag by die Onafhanklike Verkiesingskommissie (OVK) se Uitslagsentrum in Pretoria.

Die Limpopo Provinsie het die meeste laatkommers gehad, met ‘n totaal van 4 125 ID-boekies wat uitgereik is.

Van hierdie totaal het die Vhembe-streek 40% bygedra. Volgens die departement se provinsiale woordvoerder, mnr. Sam Moremi, is daar in die hele streek 1 677 ID-boekies afgehaal en vyf tydelike ID’s uitgedeel. Mutale se kantoor was die voorloper met 537 ID’s, dan Thohoyandou met 446, Louis Trichardt met 234, Malumulele met 208, Vuwani met 173, Dzanani met 53 en Musina met 26.

Kort op Limpopo se hakke, volgens Dlamini Zuma, was Gauteng met 3 569 ID-dokumente afgehaal en die Oos-Kaap met 3 532.

Landswyd het die departement se kantore tot 19:00 oopgebly om te help met die uitreik en afhaal van ID-boekies, sodat soveel as moontlik mense hulle kruisies kon gaan trek.

Benewens die feit dat die departement Woensdag as ‘n normale werksdag hanteer het, het hulle ook tydelike identiteitsertifikate, onafhanklik van ‘n ID-aansoek, uitgereik. Daar was glo baie kiesers wat nie genoeg geld gehad het vir ‘n tydelike en permanente ID-aansoek nie, of net hulle boekies verloor het. Gewoonlik moet ‘n persoon gelyktydig vir ‘n tydelike identiteitsertifikaat en ‘n nuwe ID-boekie aansoek doen.

Die minister was vasbeslote dat daar geen verneukery met die uitreik van tydelike ID’s was nie. Sy sê as ‘n aansoeker se vingerafdrukke nie geverifieer kan word op die Nasionale Bevolkingsregister nie, kry hy eenvoudig nie ‘n tydelike ID nie.

 

Written by

Isabel Venter

Isabel joined the Zoutpansberger and Limpopo Mirror in 2009 as a reporter. She holds a BA Degree in Communication Sciences from the University of South Africa. Her beat is mainly crime and court reporting.

 

ADVERTISEMENT:

 

Recent Headlines