ADVERTISEMENT:

 

Die 19-jarige Ferdie Landman wys die messteek aan sy nek. Inlas: Mnr. Jan Louw (49) het absolute dapperheid aan die dag gelê om sy vriende en homself van ‘n gewisse dood te red. In die proses is hy ten minste 15 keer met ‘n mes gesteek.

Dapperheid hul redding

 

News  Date: 03 June 2011

 

Met bloed wat orals uit sy liggaam gepomp het, het ‘n boer van die Louis Trichardt-omgewing die naweek van 28 Mei verbete geveg vir sy lewe. ‘n Paar meter verder was sy vriendin se seun ook in ‘n lewe-en-dood stryd gewikkel.

‘n Plaasaanval was die laaste ding wat die 49-jarige mnr. Jan Louw van die plaas Nooitgedacht en die 19-jarige mnr. Ferdie Landman Saterdagaand, 28 Mei, verwag het. Hulle het hulle plaas toe gehaas na ‘n besoek aan vriende op Levubu om betyds te wees vir die Bulle se wedstryd teen die Cheetahs.

Met hul aankoms omstreeks 19:00 het Landman die voordeur agter hom toegetrek en gesluit. “Dit het geklink of iemand die deur ruk, maar ek het gedink dit is die honde wat daarteen opgespring het,” het Landman Maandag vertel.

Buite het die honde mal gegaan. Landman is by die voordeur uit en Louw by die sydeur. “Oom Jan het my gevra wat aangaan. Hy het die honde aangehits om te soek,” het Landman gesê.

Die honde is reguit stoor toe. Skielik het twee mans, een gewapen met ‘n 303-jaggeweer, uit die stoor gekom en Louw en Landman in die rigting van die huis terug geforseer. Landman het Louw se optrede hierna as niks anders as ‘n heldedaad beskryf nie. “Elke keer as hulle die wapen op my gerig het, het hy op hulle geskreeu, sodat hulle weer die wapen op hom rig.”

In ‘n stadium het een van Louw se honde die een aanvaller probeer gryp. Die hond is summier doodgeskiet. Louw en Landman is teruggedwing tot op die trap by die oop voordeur.

“Hulle vra toe: ´Where is the woman?’ Dit was toe dat Oom Jan die geweer gegryp het,” vertel Landman. Die aanvallers het verwys na Landman se ma, mev. Coleen Liddle (42), Louw se lewensmaat, wat in die huis was.

Louw het die jaggeweer gegryp en die twee aanvallers begin wegdwing van die huis af. Landman sê dit was duidelik dat Louw besluit het tot hier toe en nie verder nie. Landman sê hy was baie bang en het gehoor hoe Louw vir hom skreeu om te kom help.

“Ek is nie opgelei vir sulke dinge nie, maar Oom Jan het net aanhou baklei,” het Landman vertel. Hy het skaars ‘n jaar en ‘n half gelede skool klaargemaak.

Alhoewel bang en met die besef dat hy ´n gewisse dood in die gesig staar, het ook Landman buitengewone dapperheid tydens die aanval aan die dag gelê. Hy het uitgestorm en op die aanvaller met die jaggeweer se rug gespring. Daarna het alle hel losgebars.

In die worsteling met die een aanvaller is Louw 15 keer met ‘n mes gesteek in sy kop, bors en bene. Meters verder het Landman en die ander aanvaller op die grasperk vir beheer van die jaggeweer geworstel.

In ‘n stadium kon Louw, erg gewond en bebloed, van sy aanvaller wegkom om sy eie wapen in die huis te gaan gryp. Dit was toe dat beide aanvallers hul moordlus op Landman gefokus het. “Die een het my platgedruk, terwyl die ander een geskreeu het: ´Kill him! Kill him!´”

Die volgende oomblik het die aanvaller die mes in sy keel ingeslaan. “Ek het nie die steek gevoel nie, net die warm bloed oor my hande”. Oomblikke later het die ander aanvaller hom twee keer in die rug gesteek.

“Ek het besef – hier gaan hulle my vandag doodsteek,” vertel Landman. Hy het opgespring en vir die oop voordeur gemaak. Die hele tyd, sê hy, het hy gewag vir die doodskoot.

Weens erge bloedverlies het Landman egter elke paar tree inmekaar gesak. “Dit is soos ‘n gekweste bok wat probeer opstaan, maar kort-kort val. Presies so. Jy wil hardloop, maar jou bene kan nie,” het Landman gesê.

Met dié dat Landman eindelik die voordeur bereik, het Louw met sy eie wapen uitgestorm gekom. Dit is toe dat die twee aanvallers die hasepad kies.

Landman het ‘n handdoek om sy nek en skouers gedraai om die ergste bloeding te stop. Daarna het Liddle hom deurgejaag hospitaal toe.

Louw was blind van woede. “Hy wou niks weet van hospitaal toe gaan nie. Hy wou net die mense kry. As jou gesin so aangeval word, word jy kwaad,” het Landman gesê.

Liddle het Landman na die Zoutpansberg Privaathospitaal geneem waar sy toestand gestabiliseer is. Louw het later met sy eie bakkie hospitaal toe gery. Dit was eers by die hospitaal wat die erns van Louw se beserings aan die lig gekom het. Een van die messteke het sy long gepenetreer. Die long het met bloed gevul en platgeval. Louw is dieselfde aand nog oorgeplaas na die hoësorg-eenheid van die Zuid-Afrikaanse Hospitaal in Pretoria. Hy het merkwaardige herstel getoon en teen Dinsdag was Louw reeds op pad terug na sy plaas om daar verder te herstel. Landman se messteke is toegewerk en hy is reeds Sondag ontslaan.

Groot plasse droë bloed was Maandagoggend nog sigbaar voor die plaaswoning.

“Dit is verby ... ons leef. Dit is net erg - as ek my oë toemaak veg ek voort,” het Landman gesê.

 

Written by

Andries van Zyl

Andries joined the Zoutpansberger and Limpopo Mirror in April 1993 as a darkroom assistant. Within a couple of months he moved over to the production side of the newspaper and eventually doubled as a reporter. In 1995 he left the newspaper group and travelled overseas for a couple of months. In 1996, Andries rejoined the Zoutpansberger as a reporter. In August 2002, he was appointed as News Editor of the Zoutpansberger, a position he holds until today.

 

ADVERTISEMENT:

 

Recent Headlines