

ADVERTISEMENT:

News Date: 03 June 2011
Vir byna ‘n maand voer die twee verdagtes wat verantwoordelik was vir die aanval op die 49-jarige Jan Louw en die 19-jarige Ferdie Landman die afgelope naweek, al ‘n terreurveldtog in die Louis Trichardt-omgewing.
Hierdie skokkende inligting het Dinsdag aan die lig gekom uit gesprekke met onder meer die lede van die TLU SA se plaaswag. Meer skokkend was die nuus dat die einste twee verdagtes Maandagaand weer toegeslaan het. Dié keer het hulle plaasarbeiders van die plaas Elandspruit op die Elim/Beja-pad oorrompel en van kontant en selfone beroof. Soos in die geval van die Louw-aanval op die plaas Nooitgedacht Saterdagaand op die Thohoyandou-pad, het die aanvallers een skoot afgevuur en ‘n .303-doppie is op die misdaadtoneel gevind.
Die terreurveldtog het begin kort na ‘n inbraak by ‘n polisie-adjudant se woning op die Rietvleiplotte sowat drie weke gelede, waartydens ‘n .303-jaggeweer gesteel is.
Op 5 Mei is ‘n daar ingebreek by ‘n padkafee op die plaas Vygeboomsdrift van mnr. Leon Furstenburg langs die Thohoyandou-pad. Die kafee is leeggedra, maar gelukkig kon die booswigte nie toegang tot die kluis kry nie. Dieselfde aand is die varkplaas op die Elim-pad geteiken en kontant gebuit. Dit is gevolg deur ‘n gewapende roof op die plaas van mnr. De Wet van Wyk op 15 Mei, waartydens arbeiders aangehou en van selfone en kontant beroof is. Op 25 Mei was die booswigte weer terug op Furstenburg se plaas. Dié keer is ‘n wag oorrompel en vasgebind, maar gelukkig het die alarmstelsel die boosdoeners verwilder. Skaars ‘n klipgooi van Furstenburg se woning, het hulle dieselfde aand ook by die Marandela Melkstal probeer inbreek, waarna mnr. Gilbert Gerhardt se kantore op sy plaas gestroop is.
Beskrywings wat deur slagoffers in genoemde voorvalle gegee is, stem ooreen met dié wat gegee is in die Louw-aanval, asook die aanval Maandagaand – twee mans met ‘n langgeweer.
Kommerwekkend is dat die publiek vanaf owerheidskant totaal oningelig gelaat is oor dié dreigende gevaar. Ná die aanval op Louw en Landman is die boeregemeenskap egter nou op hoë gereedheidsgrondslag, met mnr. Doors le Roux, veiligheidsverteenwoordiger van die Soutpansberg Distrikslandbou-unie, wat Maandag gewaarsku het dat die aanvalle nie sal stop voordat dié “sosiale terroriste” aangekeer is nie. Die plaaswagte het ook reeds begin om hul groenlig-patrollies te verskerp. Die algemene gevoel is dat dit net ´n kwessie van tyd is voordat iemand vermoor word.
Plaaslike polisiewoordvoerder kapt. Maano Sadike wou nie spekuleer of die wapen wat deur die mans gebruik word wel die een is wat by die Rietvleiplotte gesteel is nie. Hy wou ook nie bevestig dat dit dieselfde twee mans is wat vir die misdaadvlaag verantwoordelik is nie.
“Ons is wel bekommerd dat dit hulle kan wees,” het Sadike gesê.
Teen druktyd isr nog geen arrestasies gemaak nie. Sadike het egter gesê dat die polisie sedert die naweek se aanval dag en nag werk om die twee mans aan te keer. Hy het lede van die publiek wat hulle behulpsaam kan wees met inligting versoek om dringend hul noodnommer (083 206 5594) te skakel.
Andries joined the Zoutpansberger and Limpopo Mirror in April 1993 as a darkroom assistant. Within a couple of months he moved over to the production side of the newspaper and eventually doubled as a reporter. In 1995 he left the newspaper group and travelled overseas for a couple of months. In 1996, Andries rejoined the Zoutpansberger as a reporter. In August 2002, he was appointed as News Editor of the Zoutpansberger, a position he holds until today.

ADVERTISEMENT:
