ADVERTISEMENT:

 

Niemand wat niksvermoedend brandstof in sy voertuig gaan ingooi, verwag om skielik die nag in ‘n tronksel te spandeer en dan eindelose hofsake te moet trotseer nie. Dit het met mnr. Tuan Oosthuizen gebeur toe hy op 6 Mei petrol in sy bakkie ingegooi het.

Man spandeer aand in selle oor ´vervalste note´

 

News  Date: 03 June 2011

 

Niemand wat brandstof in sy voertuig gaan ingooi, verwag om skielik die nag in ‘n tronksel te spandeer en dan eindelose hofsake te moet trotseer nie.

Vergesog is dié storie nie. Dit is wat ‘n kliënt van Van der Westhuizen Prokureurs oorgekom het. “Dit klink vir ons na onregmatige arrestasie,” het me. Stephné van der Westhuizen Maandag gesê.

In die vroeë oggendure van Vrydag, 6 Mei, het mnr. Tuan Oosthuizen (31) by Ayob Motors R300 se brandstof in sy bakkie ingegooi.

“Ek het betaal met drie nuwe honderdrand note. Ek was die enigste kliënt op die ryvlak,” sê Oosthuizen. Terwyl hy na die N1 gery het, het hy gemerk dat die petroljoggie agter hom aan hardloop. Hy het gestop en gevra wat fout is. Hy is verwittig dat hy moes terugdraai, aangesien daar probleme by die kassier was. Oosthuizen het teruggedraai, waarop hy meegedeel is dat hy met vervalste note betaal het.

“Die drie note wat hulle my gewys het, was verfrommel en dit was nie die note waarmee ek betaal het nie. Binne enkele minute was die polisie op die toneel,” sê Oosthuizen. Van der Westhuizen sê dat daar glad nie na haar kliënt se kant van die saak geluister is nie. As hy iets wou sê, is hy beveel om stil te bly.

“Hy is nie aangekla nie, sy regte is nie voorgelees nie en hy is nie toegelaat om ‘n oproep te maak nie. Sy bankkaart is afgeneem, asook die R50 wat hy nog in sy beursie gehad het. Hy kon tot vandag toe nie daarin slaag om dit terug te kry nie,” sê Van der Westhuizen.

Oosthuizen is in ‘n polisievoertuig gestop en het die nag in die selle deurgebring. Om 09:00 is hy van die selle na die hof geneem, waar hy vir die eerste keer gehoor het dat hy van “diefstal” aangekla word. Volgens wat hy van die saaklêer kon aflei, is daar “vervalste note aan hom gevind”. Hy is op borg vrygelaat en die saak is uitgestel na 20 Mei.

Volgens Van der Westhuizen is Oosthuizen op Saterdag, 14 Mei, verder deur die polisie geïntimideer. Hy het vanuit die Spur restaurant, wat langs die aanklagkantoor geleë is, gekom. Polisiemanne het hom by sy bakkie raakgesien en aangekeer omdat sy voertuig dan nie op 6 Mei geskut is nie. Die beamptes het hom vir 90 minute in die aanklagkantoor laat sit, voordat hy toegelaat is om te gaan.

“Intimidasie aan die kant van die polisie raak net al meer. Die polisiebeamptes wat die dade van intimidasie pleeg, moet persoonlik aanspreeklik gehou word,” het Van der Westhuizen gesê.

“My kliënt het gelukkig niks in die selle oorgekom nie, maar die volgende ou is dalk nie so gelukkig nie. My kliënt het nog nooit die wet oortree nie. Om vir die eerste keer op so ´n manier met die polisie in aanraking te kom, sal enige mens se geloof in die land se polisiemag ‘n knou gee,” het Van der Westhuizen gesê.

Van der Westhuizen voel dat die feit dat Oosthuizen teruggegaan het toe die petroljoggie hom geroep het, vir die polisie moes aandui dat dit nodig was om verder ondersoek in te stel en hom nie net summier te arresteer nie. Van der Westhuizen kon tot op hede nog nie daarin slaag om die klagstaat uit die staat te kry nie.

Verskeie vrae rondom die saak is aan die woordvoerder van die Makhado polisiestasie gestel. Kaptein Maano Sadiki het gesê dat die polisie nie in hierdie stadium oor die saak kommentaar kan lewer nie, aangesien die saak sub judice is. “Indien die aangeklaagde ongelukkig is oor die optrede van lede van die polisiemag, kan hy die stasiebevelvoerder kom sien. Die stasiebevelvoerder se deur staan oop vir die publiek,” het Sadiki gesê.

Die saak is intussen uitgestel na 24 Junie.

 

Written by

Linda van der Westhuizen

Linda van der Westhuizen has been with Zoutnet since 2001. She has a heart for God, people and their stories. Linda believes that every person is unique and has a special story to tell. It follows logically that human interest stories is her speciality. Linda finds working with people and their leaders in the economic, educational, spiritual and political arena very rewarding. “I have a special interest in what God is doing in our town, province and nation and what He wants us to become,” says Linda.

 

ADVERTISEMENT:

 

Recent Headlines