ADVERTISEMENT:

 

´n Lid van die Zoutpansberg Vliegklub op Louis Trichardt, Johan van Eeden (regs), sit in die kajuit van die opleidingsvliegtuig van die klub se vliegskool, kort nadat hy ná ‘n oefenvlug neergestryk het op die Louis Trichardt munisipale vliegveld. By hom is die vlieginstrukteur en eienaar van G&L Flight Training, Avinash Bharath, wat die opleiding vir die skool behartig.

Vliegskool sprei reeds sy vlerke

 

News  Date: 03 June 2011

 

Die Zoutpansberg Vliegklub is, benewens verskeie ander aktiwitieite, ook reeds flink op dreef met hul vliegskool op Louis Trichardt.

Ses studente is op die oomblik besig met aktiewe vliegopleiding.

Die klub het die dienste bekom van Avinash Bharath se G&L Flight Training van Polokwane, wat drie instrukteurs beurtelings beskikbaar stel vir opleiding op Louis Trichardt. Die opleiding geskied in ‘n viersitplek Piper enkelmotorige vliegtuig en die opleidingsarea strek oor die Albasinidam en Levubu-gebied.

“Lede van die landbougemeenskap in die gebied moet nie bekommerd wees as hulle ‘n vliegtuig snaakse bewegings sien uitvoer nie. Dit is deel van die opleiding,” het een van die lede geskerts.

Avinash Bharath, wat self regstreeks betrokke is by die manne se opleiding, sê die opleidingsituasie by Louis Trichardt is besonder gunstig en volledige opleiding vir private, kommersiële en lugvaartvlieënierslisensies kan by die opleidingskool deurloop word. Net nagvlugte is op die oomblik nog buite bereik, aangesien die naglandingstoerusting by Louis Trichardt se munisipale vliegveld buite werking gestel is weens kabeldiefstal.

Die opleiding vir ‘n private vlieënierslisensie duur sowat 5 maande en behels 45 vliegure. Vir ‘n kommersiële lisensie is die vereiste 200 vliegure, wat binne 12-14 maande bereik kan word.

Avinash sê die ligging van die opleidingsvliegveld binne ‘n militêr-beheerde luggebied en die teenwoordigheid van navigasie bakens, met die internasionale lughawe in Polokwane net 20 minute se vliegtyd ver, is deel van die besonder gunstige opleidingsituasie op Louis Trichardt. Vir lede wat opleiding ontvang, is daar ook geen wagtyd by die vliegveld, soos by ander groter en bedrywiger lughawens, nie. Terselfdertyd is die lugopleidingsgebied besonder naby - net sowat vyf minute weg van die vliegveld.

Die voorsitter van die klub, Pieter Schlesinger, sê die klub is nie net vir voornemende vlieëniers nie. Benewens die vliegopleiding bied die klub ook ‘n verskeidenheid ander aktiwiteite aan vir vliegliefhebbers. Die klub het onder meer ook verskeie radiobeheer-vliegliefhebbers onders sy vlerk en maak ook voorsiening vir belangstellings soos valskermsweef .

“Liefhebbers en belangstellendes in alle vorme van die lugvaart en vliegkuns is welkom om aan te sluit.”

Belangstellendes met enige navrae kan Pieter skakel by 083 381 9373.

 

Written by

Frans van der Merwe

Frans van der Merwe is a freelance journalist with more than 40 years experience in the newspaper industry. Apart from newspaper reporting, he was also involved with radio news, news reading, training and marketing. He has been living and working in Louis Trichardt since 1991.

 

ADVERTISEMENT:

 

Recent Headlines