ADVERTISEMENT:

 

Die 35-jarige man, afgeneem kort nadat hy Vrydag in die Streekshof op Louis Trichardt drie lewenslange vonnisse opgelê is.

Drie lewenslange vonnisse vir stiefpa

 

News  Date: 10 June 2011

 

Die man wat sy stiefdogter seksueel misbruik het en die misdrywe op sy selfoonkamera afgeneem het, is verlede week in die Streekshof op Louis Trichardt drie keer lewenslange tronkstraf opgelê.

Toeskouers in die hof het ná vonnisoplegging hulle tevredenheid uitgespreek met die vonnis, veral gesien in die lig daarvan dat die vonnis uitgespreek is tydens die herdenking van Kinderbeskermingsweek.

Die man het terreggestaan op drie klagte van verkragting, een van seksuele aanranding, een van die vervaardiging van kinderpornografie, een klag van die vertoon van kinderpornografie aan ‘n minderjarige en ´n klag van die seksuele voorbereiding van ‘n minderjarige.

Die man, nou 35, is in November 2009 by sy huis in die woongebied van die Makhado Lugmagbasis gearresteer. Tydens ‘n vorige hofverskyning het die ma van die dogtertjie getuig dat sy alleen by die huis was toe sy op eksplisiete- en naakfoto’s van haar dogter, toe 11, op die gesin se rekenaar afgekom het.

Die dogtertjie het voorverlede week agter geslote deure vir die Staat teen die man getuig. Sy het bevestig dat die man haar by meer as 10 geleenthede onsedelik betas het en pornografie aan haar gewys het. By een geleentheid het hy ook ‘n pornografiese tuisvideo van homself en die dogtertjie se ma aan haar gewys. Sy het gesê die man het haar altyd genader as haar ma en boetie nie by die huis was nie en haar gedreig dat daar moeilikheid sal wees as sy dit durf waag om vir iemand te vertel van die voorvalle.

Tydens haar uitspraak het landdros Marie Viljoen met groot lof gepraat van die meisie se getuienis.

“Ten spyte van haar jeugdige jare het sy haar getuienis kalm en op ´n onskuldige wyse gelewer. Sy het die hof beïndruk as ‘n geloofwaardige en betroubare getuie,” het Viljoen gesê.

Alhoewel die meisie verder getuig het dat die man haar nie verkrag het nie, het die Hof bevind dat die foto’s wat van die voorvalle geneem is, in terme van die nuwe Wet op Seksuele Misdrywe, wys dat die meisie wel verkrag is. Volgens dié wet vind verkragting plaas wanneer enige persoon onregmatige en doelbewus ‘n ander persoon sekuseel penetreer sonder laasgenoemde persoon se toestemming.

Op grond van die “brutaliteit” van die foto’s het die Hof bevind dat die Staat hulle saak bo alle redelike twyfel bewys het en die man skuldig bevind op al drie die klagte van verkragting, asook op die klag van seksuele aanranding en die vervaardiging en vertoon van kinderpornografie. Die man is onskuldig bevind op die seksuele voorbereiding van ‘n minderjarige, nadat die Staat toegegee het dat daar nie genoeg getuienis gelei is om die klag te bewys nie.

Die Hof het verder gesê die man se getuienis dat enige iemand toegang tot die huis gehad het en dat ´n vreemde man die foto´s sou neem, "hoogs onwaarskynlik is."

Die man se regsverteenwoordiger, adv. Maxwel Sikhutshi, het ter vonnisversagting aangevoer dat die man aangeneem is en deur sy stiefsuster mishandel is. Die man het ook na bewering ‘n moeilike kinderlewe gehad en is glo deur skoolmaats verkrag. Verder het Sikhutshi geargumenteer dat die klagte van verkragting wat voor die Hof gelê is “nie so erg is nie, want in ander gevalle van verkragting word die slagoffers gemartel of vermoor.” Hy het ook weer aangevoer dat dit nie bewys is dat dit sy kliënt se geslagsdeel op die foto’s is nie.

Tydens haar vonnisoplegging het landdros Viljoen die saak as “walglik en skokkend” beskryf en gesê die misdrywe wat die man teen die dogtertjie gepleeg het nie net indringend van aard was nie, maar ook onmenslik was. Haar opinie was dat pornografie dringend op ‘n landswye vlak aangespreek moet word, weens die rol en aanleiding wat dit gee tot seksuele misdrywe.

“Vir die wat nog nie na beelde van kinderpornografie gekyk het nie, wees dankbaar, want dit is beelde wat jy nooit weer sal vergeet nie.”

Sy het die man tot lewenslange gevangenisstraf gevonnis en ook beslis dat die vonnisse nie gelyklopend uitgedien mag word nie. Die oorblywende drie klagte is gekombineer ter vonnisoplegging en hiervoor is die man ‘n ekstra tien jaar tronkstraf opgelê. In totaal beloop sy vonnis 85 jaar.

Die man het tydens die uitspraak net strak voor hom uitgekyk en dadelik afgeloop na die hofselle toe die uitspraak gelewer is. Sy aansoek om verlof tot appèl is ook geweier.

 

Written by

Isabel Venter

Isabel joined the Zoutpansberger and Limpopo Mirror in 2009 as a reporter. She holds a BA Degree in Communication Sciences from the University of South Africa. Her beat is mainly crime and court reporting.

 

ADVERTISEMENT:

 

Recent Headlines