ADVERTISEMENT:

 

Jan Louw (middel) is weer tuis en boer voort. Hy sê hy het nog bietjie seer, maar dit gaan goed. Saam met hom staan Coleen Liddle (regs), sy lewensmaat en ma van Ferdie Landman (links), wat saam met hom in die aanval gewond is.

Kalm optrede sleutel tot hul oorlewing

 

News  Date: 10 June 2011

 

Om kalm te bly … Dit, sê die 49-jarige Jan Louw van Louis Trichardt, was die eerste gedagte wat deur sy kop gegaan het tydens die plaasaanval wat byna sy lewe en dié van die 19-jarige Ferdie Landman geëis het.

“Ek is maar nog bietjie styf, maar dit gaan goed,” het Louw Maandag gesê. ‘n Week vantevore was hy nog in die hoësorg-eenheid van die Zuid-Afrikaanse Hospitaal in Pretoria. Hy is intussen weer op sy plaas, besig om te boer.

Louw en Landman is Saterdag, 28 Mei wreed aangeval buite Louw se woning op die plaas Nooitgedacht op die Thohoyandou-pad. Volgens Louw het hy en Ferdie omstreeks 18:50 van Levubu teruggekeer. Hulle is toe saam met sy lewensmaat en ma van Ferdie, Coleen Liddle (42), die huis in. Buite het die honde erg te kere gegaan.

Die twee mans is na buite om ondersoek in te stel en dit was toe dat twee aanvallers, een gewapen met ‘n .303-jaggeweer en die ander met ‘n mes, hulle oorrompel het. In die proses is Louw ten minste vyftien keer in die kop, bors en bene met ‘n mes gesteek, terwyl Landman in die nek en rug gesteek is. Een van Louw se honde is ook deur die aanvallers doodgeskiet.

“Ek dink nie hulle wou ons aanval nie. Hulle wou inbreek, maar ons het te vroeg huistoe gekom,” het Louw gesê. Hy sê hy het baie lesse uit die voorval geleer.

“Lees jou honde en moenie net buitentoe storm nie. As jy moet uitgaan, wees paraat.”

Oor die aanval self sê Louw dat die plaaswag se veiligheidskursusse hom baie gehelp het.

“Hulle leer jou die eerste ding om te doen in ‘n aanval is om kalm te bly … Die Here het die hele tyd met my gepraat en my gesê wat gaan gebeur.”

Louw het kalm sy kans afgewag om terug te baklei. Met ‘n geweer in sy rug het die een aanvaller hom en Landman die huis in forseer.

“Tussen die voordeur en die kluis het ek besef ek moet iets doen,” vertel Louw.

In ‘n stadium het die booswig die geweer verby Louw se sy gedruk in ‘n poging om hom in ‘n kamer in te forseer.

“Dit was toe dat ek my kans gesien het.”

Louw het die geweerloop gegryp, omgedraai en die man met brute krag by die huis uitforseer. Buite het ‘n worsteling ontstaan tussen hom, die aanvaller en Landman. Kort daarna het die ander aanvaller, wat blykbaar probeer het om by ‘n sydeur in te kom, Louw herhaaldelik met ‘n mes in die rug begin steek. Die messtekery kon nie so aangaan nie en Louw moes noodgedwonge Landman los om alleen met die man met die geweer te baklei, terwyl hy die ander aanvaller aangevat het.

“In ‘n stadium was daar soveel bloed in my gesig dat ek nie meer kon sien nie,” het Louw gesê. Hy het die aanvaller geskop, weggestamp en die huis ingehardloop om sy eie geweer te kry. Dit was blykbaar toe dat die aanvallers die hasepad gekies het.

“Hulle gaan my nie hier wegkry nie,” het Louw gesê met betrekking tot plaasaanvalle in Suid-Afrika. Sy oupa het in 1929 na die streek gekom en, het Louw gesê, dit is nou die eerste keer dat hulle so iets beleef. Hyself is al van 1996 woonagtig op die plaas.

Louw, Landman en Liddle het groot waardering vir die ondersteuning wat hulle tydens en na afloop van die aanval van die Louis Trichardt-gemeenskap ontvang het. Hulle wou niemand uitsonder nie, want daar was net te baie.

“Uit my hele hart uit sê ek dankie. Ek sien die hele ding as ‘n groot ´eye-opener´ van hoe mense vir mekaar omgee. Mense is ook weer meer paraat,” het Louw gesê. Liddle het op haar beurt ook die streek se Engelse-gemeenskap bedank vir hul ondersteuning.

“Thank you for all your support and prayers,” het Liddle gesê.

 

Written by

Andries van Zyl

Andries joined the Zoutpansberger and Limpopo Mirror in April 1993 as a darkroom assistant. Within a couple of months he moved over to the production side of the newspaper and eventually doubled as a reporter. In 1995 he left the newspaper group and travelled overseas for a couple of months. In 1996, Andries rejoined the Zoutpansberger as a reporter. In August 2002, he was appointed as News Editor of the Zoutpansberger, a position he holds until today.

 

ADVERTISEMENT:

 

Recent Headlines