

ADVERTISEMENT:

News Date: 10 June 2011
Teen Woensdag was die twee mans wat voorverlede naweek verantwoordelik was vir die gewelddadige aanval op die 49-jarige Jan Louw en 19-jarige Ferdie Landman buite Louis Trichardt, steeds op vrye voet.
Intussen het hulle vir ‘n tweede keer ná die aanval toegeslaan op ‘n plaas skaars ‘n paar kilometer van die plaas Nooitgedacht waar Louw en Landman op 28 Mei aangeval is. Dit is ook nie ver van die plaas Elandspruit nie waar die booswigte verlede Maandag plaaswerkers aangeval en beroof het.
In die mees onlangse terreuraanval het twee mans, wie se beskrywing ooreenstem met die verdagtes in die Louw- en Elandspruit-aanval, Dinsdagoggend ‘n huishulp op die plaas Palmietfontein oorval, kort nadat die huiseienaars, Johan Cronjé en Yolanda Kock, werk toe gery het.
Die booswigte het toegang tot die plaaswoning gekry deur diefwering voor een van die kamervensters af te skop. Daarna het hulle die huishulp ingewag, oorrompel en vir bykans ‘n uur aangehou, terwyl hulle die huis geplunder het. Omstreeks 08:00 het hulle weer op die vlug geslaan, waarna die huishulp vir bykans 1,5 km gehardloop het om hulp te ontbied. Volgens Kock is twee skootrekenaars, ‘n iPod, al haar juwele en talle ander persoonlike besittings gebuit. Sy is egter dankbaar dat niemand in die voorval erg beseer is nie.
Plaaslike polisiewoordvoerder, kapt. Maano Sadike, het Woensdag bevestig dat die beskrywing van die geweer wat deur die mans gebruik is, ook ooreenstem met die .303 wat sowat ‘n maand gelede uit ‘n polisieman se huis op die Rietvleiplotte gesteel is. Dit stem ook ooreen met die beskrywings wat tydens die Louw- en Elandspruit-aanval gegee is. Die polisie se honde-eenheid kon ook na Dinsdag se aanval vir ‘n geruime tyd die aanvallers se spoor volg, maar het dit ongelukkig verloor.
Sadike het inwoners weereens versoek om eerder die polisie dadelik te skakel in gevalle soos hierdie, alhoewel hy verstaan dat mense graag eerste wil help. Derhalwe het hy twee nommers beskikbaar gestel wat boere kan skakel in geval van ‘n aanval, sonder om eers die aanklagkantoor te skakel of die 10111 nommer. Die nommers is dié van adjudant-offisier Sadiki (073 144 9694) en adjudant-offisier Koos Khosa (082 728 4336). Beide vorm deel van die taakmag wat spesifiek konsentreer op hierdie saak.
Wat betref die identiteit van die twee aanvallers wou Sadike homself nie uitspreek nie. Hy het egter inwoners en plaasbewoners die versekering gegee dat die taakspan onverpoosd werk om die verdagtes aan te keer.
Andries joined the Zoutpansberger and Limpopo Mirror in April 1993 as a darkroom assistant. Within a couple of months he moved over to the production side of the newspaper and eventually doubled as a reporter. In 1995 he left the newspaper group and travelled overseas for a couple of months. In 1996, Andries rejoined the Zoutpansberger as a reporter. In August 2002, he was appointed as News Editor of the Zoutpansberger, a position he holds until today.

ADVERTISEMENT:
