

ADVERTISEMENT:

News Date: 17 June 2011
Inwoners van Louis Trichardt se frustrasie met ‘n ontoereikende rioolaanleg blyk iets van die verlede te wees, met konstruksie aan die veelbesproke tweede aanleg wat op 1 Julie vanjaar begin.
Die amptelik terreinoorhandiging het Maandag by die Makhado Munisipaliteit plaasgevind, met Rubicon Civils as kontrakteur, WorleyParsons as ingenieurs en die Vhembe Distriksmunisipaliteit as die werkgewer. Die nuwe aanleg, met ‘n kontrakwaarde van digby die R46,3 miljoen en ´n konstruksietydperk van 14 maande, sal gebou word net suid van die bestaande rioolaanleg op die plaas Rietvley.
Dit is ‘n onbetwiste feit dat Louis Trichardt se bestaande rioolaanleg reeds vir etlike jare nie meer die kapasiteit het om die hoeveelheid riool wat die dorp genereer te hanteer nie. Die aanleg is oorspronklik ontwerp om 7,5 megaliter riool daagliks te hanteer, maar weens die ongekende groei wat die dorp die afgelope paar jaar beleef het, is die aanleg geforseer om bykans 12 megaliter per dag te hanteer. Dit het veroorsaak dat ‘n groot hoeveelheid rouriool bloot deur die aanleg gevloei het en in die vleiland agter die aanleg dreineer het. Reeds vir jare waarsku inwoners al oor die potensiële gesondheidsrisiko wat dié tendens tot gevolg kan hê, veral wat betref die dorp se ondergrondse watertafel. Bykans al die munisipale boorgate, wat gebruik word om die dorp se drinkwater aan te vul, is direk in dié vleiland geleë.
As interim oplossing het die munisipaliteit in Februarie verlede jaar begin met die opgradering van die bestaande aanleg teen ‘n koste van R11,5 miljoen. Daar is egter toe reeds besef dat dit nie die probleem sal oplos nie. ‘n Tweede aanleg, wat die bestaande aanleg kan aanvul, sou die enigste oplossing wees.
Die nuwe aanleg het ‘n ontwerpkapasiteit van 5 megaliter per dag, maar beskik oor die vermoë om 5.3 keer die daaglikse kapasiteit te hanteer. Die ontwerp maak ook voorsiening daarvoor dat die aanleg se daaglikse kapasiteit in die toekoms opgestoot kan word na 10 megaliter per dag.
Die bestaande en die nuwe aanleg sal onafhanklik van mekaar funksioneer, met laasgenoemde wat riool vanaf Tshikota, die industriële area, Uitbreiding 8, Etivillas en die maksimum sekuriteitsgevangenis sal hanteer. Die bestaande aanleg sal voortgaan om riool uit die “ou dorp” te hanteer, in ooreenstemming met sy aanvanklike ontwerpkapasiteit.
Alhoewel Rubicon Civils as kontrakteur aangestel is, sal hulle slegs verantwoordelik wees vir die siviele en strukturele aspekte van die kontrak. Die meganiese en elektriese aspekte van die kontrak moet nog op tender uitgesit word.
Volgens mnr. Henk Geldenhuys van WorleyParsons (Polokwane), sal die tenders vir meganiese en elektriese werk binne die volgende drie of vier maande geadverteer word om so spoedig moontlik kontrakteurs aan te stel. Dit sal gedoen word om te verseker dat alle aspekte van die kontrak binne die konstruksietydperk van 14 maande voltooi word.
Op ‘n vraag of Louis Trichardt se kroniese rioolstortings opgelos sal word met die konstruksie van die nuwe aanleg, het Geldenhuys gesê dat die nuwe aanleg alleen nie die stortings sal verhoed nie.
“Rioolstortings vorm nie deel van dié spesifieke kontrak nie,” het Geldenhuys gesê en verduidelik dat hulle tans net kyk na die probleem van ‘n oorlaaide rioolaanleg en nie na probleme hoër op in die stelsel nie. Wat betref probleme soos disfunksionele pompstasies hoër op in die stelsel, het Geldenhuys gesê dat hierdie kwessie onder die loep sal kom by voltooiing van die nuwe aanleg. Hy het egter bygevoeg dat beide die Makhado en Vhembe munisipaliteite reeds probleemareas geïdentifiseer het en sal aanspreek onder afsonderlike kontrakte.
Andries joined the Zoutpansberger and Limpopo Mirror in April 1993 as a darkroom assistant. Within a couple of months he moved over to the production side of the newspaper and eventually doubled as a reporter. In 1995 he left the newspaper group and travelled overseas for a couple of months. In 1996, Andries rejoined the Zoutpansberger as a reporter. In August 2002, he was appointed as News Editor of the Zoutpansberger, a position he holds until today.

ADVERTISEMENT:
