ADVERTISEMENT:

 

Kry nou reeds brandbane in plek

 

News  Date: 17 June 2011

 

Grondeienaars word gemaan om nou reeds te begin voorberei vir moontlik veldbrande.

Dié waarskuwing kom van mnr. Stephen Hoffman, voorsitter van die Soutpansberg Distrik Landbou-unie (SDLU).

Hoffman het gesê dat die goeie laat reëns die veld in so ‘n mate laat spruit het dat dit weer lowergroen soos in die vroegsomer vertoon. Hy het egter grondeienaars gemaan dat hoewel die besonderse goeie reën groot voordele vir bees- en wildboere inhou, die welige gras ook ‘n verhoogde brandgevaar vir die laat winter inhou.

Hoffman het gesê die maak van brandpaaie is ‘n wetlike verpligting wat ten doel het om veld-, bos- en bergbrande regdeur die land te bestry. “Veldbrande ken nie grense nie en alle boere is kwesbaar wanneer ‘n brand in ‘n gebied uitbreek,” het Hoffman gesê.

Spesifieke voorskrifte geld wanneer grondeienaars besluit om brandstroke te maak. Dit sluit in dat bure ingelig moet word en dat daar voldoende voorsorg getref word om te verseker dat die brand nie buite beheer raak nie.

Hoffman het boereverenigings aangemoedig om ook nou reeds seker te maak dat brandtoerusting deeglik nagegaan word, sodat die nodige instandhoudingswerk gedoen kan word voordat enige brand uitbreek. Hy het ook naweekboere versoek om so spoedig moontlik met hul naaste boerevereniging te skakel.

“Dit gebeur heel dikwels dat veldbrande op plase uitbreek waarvan die eienaar nie permanent op die plaas woonagtig is nie. Wanneer die vuur dan ontdek word, is dit gewoonlik te laat om dit vinnig te blus en is die vuur gewoonlik buite beheer,” het Hoffman gesê.

Vir meer inligting, skakel die SDLU se kantoor op Louis Trichardt by tel. 015 516 3963.

 

Written by

News Correspondent

Correspondent journalists from all over the region supply us with news and sport articles. 

 

ADVERTISEMENT:

 

Recent Headlines