

ADVERTISEMENT:

News Date: 24 June 2011
Motoriste op die N1 noord is verlede week met ´n gru-toneel by Masekwaspoort begroet – die karkasse van vyf jaghonde wat aan ´n boer se plaasheining gehang het.
Vir mnr. Lourens Botes van Northwich Game Lodge was dit die laaste strooi en enigste manier om die boodskap oor te dra: Bly weg van my plaas. Dié boodskap is gemik op die onwettige jagters wat honde gebruik om sy wild op die plaas mee uit te roei. Die honde is doodgeskiet, nadat hulle op die plaas betrap is. Die voorval het weereens die probleem van onwettige jag in die streek in die kollig geplaas.
Botes het Dinsdag aan die Zoutpansberger gesê dit is duidelik dat onwettige jagters met ‘n fyn uitgewerkte plan toeslaan op Northwich en ander buurplase. Jaar na jaar ly hulle derduisende rande se skade, nie net aan wild nie, maar ook aan herstelwerk wat voortdurend aan stukkende heiningdrade gedoen moet word. Die onwettige jagters is veral gedurende volmaan baie bedrywig.
“Ek kan jou nie vertel hoeveel keer ons al die draad moes regmaak nie,” het Botes gesê.
Sondagaand, 12 Junie, sê Botes het hulle die honde hoor blaf. Hulle was kort op die hake van ‘n koedoebul wat, in ‘n desperate poging om van die honde vlug, oor ‘n heining naby die huis gespring het. Teen daardie tyd was die bul al erg vermink deur die honde. Bloed het orals uitgespuit en die arme dier moes van kant gemaak word.
Botes het die trop jaghonde agterna gesit en geskiet om te verhoed dat hulle verdere skade kon aanrig. Altesaam sewe honde is geskiet. “Onwettige jag is ‘n enorme probleem waarvoor ons almal nou moeg is,” het Botes gesê.
Een van die groot redes waarom boere al minder en minder genade toon met jagters en hulle honde, meen Botes, is omdat daar vir hulle geen hulp is vanuit polisiegeledere nie. Alhoewel dit moeilik is om die uiters geslepe jagters vas te trek, het Botes wel sowat ‘n jaar gelede ‘n paar op die plaas aangekeer. Hulle is bloot met ‘n waarskuwing vrygelaat, net om weer terug te keer na hulle ou streke.
Diere-inspekteur Lawrence Khodobo van die Dierebeskermingsvereniging (DBV) op Louis Trichardt het Dinsdag gesê dat alhoewel hy die gru-uitstal van die diere afkeur, hy begrip het vir die boere se frustrasie. Hy het egter boere versoek om eerder gebruik te maak van die polisie of omgewingsbeamptes om van die diere ontslae te raak.
“As boere nie die hulp kry nie, is dit duidelik dat die polisie en omgewingsbeamptes nie hul werk doen nie,” het Khodobo gesê. Hy sê dit is duidelik dat hierdie vraagstuk dringende aandag nodig het.
“Net soos ons die wrede doodmaak van hierdie diere afkeur, so keur ons ook die optrede af van die mense wat hierdie honde gebruik om mee te jag,” het Khodobo gesê. Die realiteit, sê hy, is dat daar geen ander keuse is om hierdie honde van kant te maak nie, aangesien hulle nie gerehabiliteer kan word nie.
Isabel joined the Zoutpansberger and Limpopo Mirror in 2009 as a reporter. She holds a BA Degree in Communication Sciences from the University of South Africa. Her beat is mainly crime and court reporting.

ADVERTISEMENT:
