ADVERTISEMENT:

 

Die gewonde Morris Ramakokovhu (26), kort na sy arrestasie verlede Woensdag. Foto verskaf

Astrante rower geskiet

 

News  Date: 24 June 2011

 

‘n Rower se astrantheid het hom die afgelope week nie net ‘n besoek aan die hospitaal besorg nie, maar ook ‘n draai in die hof op klag van roof laat maak.

Hoe dom moet jy wees om iemand te beroof en dan daardie persoon toe te laat om te ry om geld te gaan kry om die gesteelde goedere terug te “koop”.

Dit is presies wat verlede Woensdag op Louis Trichardt gebeur het.

‘n Jong man en sy vriendin het omstreeks 11:30 ‘n draai gaan ry by die dorpsdam in Rivierstraat.

Skaars het hy sy voertuig afgeskakel, of hy en sy vriendin is deur twee mans gewapen met messe oorval.

Die paartjie is beveel om uit te klim, waarna die rowers hul voertuig deursoek het vir waardevolle items. In die proses het hulle die man se selfoon gevind.

Gelukkig het die jong man kopgehou en by die rowers gepleit dat hulle nie sy selfoon moet vat nie, aangesien daar belangrike kontakbesonderhede op is.

Glo dit of nie, maar die rower het vir die man gesê dat as hy vir hulle binne tien minute R600 kan bring, kan hy sy selfoon terugkry. Beide die man en sy vriendin is daarna toegelaat om te ry, terwyl die rowers sy selfoon gehou het.

Die jong man is direk na mnr. Dirk Meissenheimer, voorsitter van die Soutpansberg Dorpswag, by Mount Fuji Motors. Meissenheimer het die dorpswaglede ontbied, asook die polisie.

Binne minute het die span by Mount Fuji bymekaar gekom en vinnig ‘n plan van aksie beraam – tien minute is nie baie lank nie.

Daar is besluit om ‘n lid van die span in die kattebak van die jong man se voertuig te laat skuil. Die jong man is daarna sonder sy vriendin terug na die toneel. Die rowers het deurentyd kontak met hom gehou deur middel van sy eie selfoon wat hulle gevat het. Hy is herhaaldelik met die dood gedreig sou hy waag om iemand saam te bring of die polisie se hulp in te roep.

By die toneel aangekom, het die rowers kat-en-muis begin speel met die jong man. Hy is aangesê om eerder na die veld, waar President Steynstraat doodloop, te ry.

Daar aangekom is hy weer aangesê om terug te ry na die toneel waar die roof aanvanklik plaasgevind het en die geld daar te los.

Die lid in die kattebak het besef dat sou hulle die geld bloot daar los, sal hulle nie die geld, selfoon of verdagtes ooit weer sien nie.

Die jong man is deur die lid aangesê om sy vensters en deure te sluit, die geld bloot by die venster uit te gooi en aan te hou ry.

Sowat 50m vanwaar die geld gelos moes word, het die lid in die kattebak te midde van digte bosse, uit die kattebak gespring en die toneel bekruip. Intussen is die geld by die venster uitgegooi, terwyl die polisie die area vanaf bosbou tot by die N1 afgesper het.

Die lid het stadig maar seker die toneel genader. Weens die digte bosse kon hy nie regtig sien nie. In ‘n stadium het hy ‘n geskarrel voor hom gehoor en toe hy opkyk, het een van die verdagtes, gewapen met ‘n mes, skaars twee meter van hom af gestaan.

“Ek sal nooit daardie wreedaardige gesig vergeet nie. Ek het opgespring en hom beveel om stil te staan,” vertel die lid.

Die rower het die lid bestorm, waarop die lid ‘n waarskuwingskoot afgevuur het. Tussen hom en die rower was ‘n digte bos. Die waarskuwingskoot het egter nie die rower afgeskrik nie en hy was steeds op die aanval. ‘n Tweede skoot is toe afgevuur wat die rower in die regter bobeen getref het. Die aanvaller is daarna die bosse in. Sy makker het terselfdertyd sowat 100m verder uit die bosse gespring en gevlug.

Reeds na die eerste skoot het die polisie blitsig inbeweeg en die man agterna gesit. Hy is kort daarna aangekeer. Die geld, mes en selfoon is by hom teruggevind, alhoewel hy ontken het dat hy enige iets weet van die roof. Sowat ‘n uur later is sy makker vasgetrek.

Die gewonde man is onder polisiebewaking na die hospitaal geneem vir mediese behandeling. Hy is later geïdentifiseer as die 26-jarige Morris Ramakokovhu. Hy is Maandag ontslaan en het Dinsdag in die hof op Louis Trichardt verskyn op aanklagte van roof.

Teen druktyd was dit nie seker of Ramakokovhu se makker al in die hof verskyn het nie. Na wat verneem word, word Ramakokovhu met verskeie misdade in die betrokke area verbind.

 

Written by

Andries van Zyl

Andries joined the Zoutpansberger and Limpopo Mirror in April 1993 as a darkroom assistant. Within a couple of months he moved over to the production side of the newspaper and eventually doubled as a reporter. In 1995 he left the newspaper group and travelled overseas for a couple of months. In 1996, Andries rejoined the Zoutpansberger as a reporter. In August 2002, he was appointed as News Editor of the Zoutpansberger, a position he holds until today.

 

ADVERTISEMENT:

 

Recent Headlines