

ADVERTISEMENT:

News Date: 15 July 2011
Die 47-jarige pedofiel wat sy verloofde se kleindogter gemolesteer het, het Maandag sy gevangenisstraf begin uitdien, nadat hy in die Streekhof op Louis Trichardt skuldig bevind en gevonnis is.
Volgens die ma van die dogtertjie, wat by haar ma woon, het sy onraad vermoed toe sy by die huis gekom het en gesien het hoe haar dogtertjie uit hulle slaapkamer kom, gevolg deur haar ma se verloofde. Sy het dadelik haar dogtertjie gekonfronteer, waarop die dogtertjie erken het dat die man haar gemolesteer het. Die ma het dadelik die plaaslike Kinderbeskermingseenheid gekontak en gevra om die saak te ondersoek. ´n Dag later het die dogtertjie se ouma haar verlowing met die man verbreek.
Die man is ´n week later, op 21 Junie, gearresteer en is sedertdien in polisieaanhouding.
Tydens vonnisoplegging het die Staat die mening uitgespreek dat die man daadwerklike rehabilitasie in die tronk moet ontvang, veral gesien in die lig dat dit die Hof se plig is om die gemeenskap se belange op die hart te dra. Die Staat het dit in ag geneem dat die man ‘n pleitooreenkoms geteken het en sy samewerking aan die ondersoekspan gegee het.
Tydens sy uitspraak het landdros Pat Cloete die pleitooreenkoms tussen die man en die Staat aanvaar en die man aangeraai om die verskillende seksuele oortredings te gaan naslaan, sodat hy, wanneer hy gevonnis word, hy nie vir die hof sal kwaad wees nie.
Cloete het genoem dat alhoewel fisiese beserings by die dogtertjie afwesig was, dit wat die man aan haar gedoen het haar sal inhaal namate sy ouer word. “Sy gaan begin nagmerries kry en afwykings toon ... Hulle word in ‘n verwronge wêreld groot. Hulle liefdeslewe is totaal verwronge. Hulle maak hulle kinders op ‘n verwronge wyse groot as gevolg van daardie tipe dinge en dit is hoekom dit [seksuele oortredings] so ernstig beskou word,” het Cloete gesê.
Die man is tot vyf jaar direkte gevangenisstraf gevonnis. Buiten vir die gevangenisstraf, het die hof ook beveel dat sy naam in die Nasionale Register vir Seksoortreders opgeneem word. Hy is ook vir die duur van sy vonnis onbevoeg verklaar om ‘n vuurwapen te besit.
Die man het ná sy vonnisoplegging net stil geknik, voordat hy vinnig af geloop het na die hofselle.
In ‘n onderhoud met die Zoutpansberger het die ma van die dogtertjie Dinsdag gesê hulle kan nou aanbeweeg met hulle lewens, alhoewel die dogtertjie nog steeds sielkundige behandeling moet ontvang. “Sy praat nie eintlik oor dit wat met haar gebeur het nie, maar ons vertrou dat dit met tyd sal beter gaan,” het die ma gesê.

ADVERTISEMENT:
