

ADVERTISEMENT:

News Date: 15 July 2011
Padgebruikers se veiligheid by treinkruisings het weer onder die loep gekom ná die dood van die 19-jarige Gareth Brooker verlede Vrydag.
Brooker het aan sy beserings beswyk bykans ´n week nadat hy laatnag met ´n stilstaande trein by die treinkruising in Groblerstraat op Louis Trichardt gebots het. Sy dood het gemengde reaksie uit die gemeenskap ontlok. Talle meen dié betrokke kruising is onveilig en voldoen nie aan enige veiligheidstandaarde nie. Ander meen weer dat as iemand die verkeersreëls by treinkruisings nakom, ongelukke nie sal plaasvind nie.
“Ek glo die spoorweg was verkeerd in die ongeluk, want die trein was heeltemal onsigbaar,” was mnr. Edwin Bridge se kommentaar. Hy was ´n vriend van Brooker en ooggetuie tydens die ongeluk. Bridge en ‘n vriendin was op pad huistoe en het sowat 10 minute by die kruising in Groblerstraat gewag vir die trein om aan te skuif. Toe hulle besluit om om te draai, het hulle Brooker sien aankom op sy motorfiets.
“Ek het nog vir my meisie gesê die man gaan nie die trein sien nie, want dit is pikdonker,” het Bridge gesê. Volgens Bridge was daar nie beamptes wat motoriste gewaarsku het dat die trein besig was om te rangeer nie. Die kruising was ook nie verlig nie. Vriende en familie het met Bridge saamgestem en meen die trein se vragwaens moes beskik het oor glimstroke, sodat dit vir aankomende voertuie sigbaar kan wees.
Dit was verlede Vrydag duidelik dat die spreiligte op die kruising nie werk nie. Een se gloeilamp was geblaas, terwyl die ander lig glad nie ‘n gloeilamp ingehad het nie.
Met dié inligting is Transnet genader vir kommentaar. Hulle antwoord het soos ‘n telegram gelees en vrae oor die swak-verligte kruising is geïgnoreer.
Nasionale woordvoerder vir Transnet Me. Sandile Simelane het gesê dat hulle nie verantwoordelikheid aanvaar vir ongelukke by treinkruisings wat moontlik veroorsaak word deur motoriste se nalatigheid nie.
Transnet is ook gevra of hulle bewus is dat die Spoorwegveiligheid Reguleerder (SVR) sowat twee weke gelede dié betrokke kruising besoek het en dat hulle bevind het die kruising skiet tekort “in talle veiligheidsregulasies”. Simelane het egter voet by stuk gehou dat die kruising met die nodige waarskuwingstekens gemerk is.
“As die motorfietsryer by die kruising gestop het, sou hy nie met die trein gebots het nie,” het Simelane gesê.
Dit het die vraag laat ontstaan of padtekens dan voldoende waarskuwing is en aan watter ander "veiligheidregulasies" ´n treinkruising moet voldoen?
Die SVR se bestuurder van veiligheidstandaarde, mnr. Nick de Jager, het meer duidelikheid gegee. Volgens hom is die Padverkeerwet van 1996 (Wet 93 van 1996) skraps as dit kom by reëls en regulasies vir treinkruisings. Tans stipuleer die wet dat ´n trein slegs oor ´n publieke pad mag beweeg indien motoriste vooraf gewaarsku is van die trein se intensie om oor die pad te ry. Die wet skryf ook voor dat ´n trein die verkeer net mag versper in geval waar daar ´n skriftelik opdrag is, om goedere of persone op of af te laai en om rangeerwerk te doen.
Tans word daar ´n kollektiewe en samevattende dokument saamgestel ten opsigte van ondermeer veiligheid by treinkruisings. Hierdie dokument staan bekend as die Suid-Afrikaanse Nasionale Standaard vir Treinkruisings (SANS 3000-2-2-1). Dié dokument sal egter eers in middel Oktober vanjaar beskikbaar wees.
De Jager het verduidelik dat die dokument, onder andere, meer lig sal werp op spoorwegoperateurs se verantwoordelikhede as dit kom by veiligheid by kruisings, waarskuwingstekens en sigbaarheid. Tans, sê hy, is daar baie verwarring oor wie presies verantwoordelik is vir die veiligheid by treinkruisings, omdat kruisings oor munisipale en nasionale paaie loop.
De Jager het voorts verduidelik dat die Verkeerswet nie treine verplig om oor glimstrepe te beskik nie, maar wel vragmotors, minibusse en karavane. Hy het ook genoem dat die Kaap en Wes-Kaap tans die enigste provinsies is wat bemande kruisings het.
De Jager kon nie die totale omvang van die SANS-dokumente uiteensit nie. Hy het egter genoem dat, by voltooiing en publikasie daarvan, alle spoorwegoperateurs verplig sal word om die regulasies na te kom.

ADVERTISEMENT:
