ADVERTISEMENT:

 

Ses verdagtes aangekeer vir De Jager-moord

 

News  Date: 14 November 2003

 

LEVUBU – Ses mense wat vermoedelik betrokke was by 'n reeks gewapende misdade op Levubu, is aangekeer.

Die polisie se eenheid vir ernstige geweldsmisdaad in die Vhembe Distrik het ses verdagtes in aanhouding vir ondervraging in verband met die moord op mnr. Piet de Jager van Levubu, en 'n reeks ander gewapende misdrywe.

Die ses verdagtes, met ouderdomme wat wissel van 22 tot 27 jaar, is deur die polisie van Khwekhwe en die polisie van Levubu vir ondervraging aangekeer. Die ses is Dinsdagaand (11de) aangekeer is. Al ses is plaaslike mense.

Kapt. Ailwei Mushavhanamadi, skakelbeampte van die SAPD in Thohoyandou, sê die ses word aangehou vir ondervraging in verband met die moord op mnr. De Jager, wat in September vanjaar op sy plaas op Levubu doodgeskiet is. Die polisie ondersoek ook die moontlikheid dat hulle by verskeie ander gewapende rooftogte en 'n reeks huisbrake op Levubu betrokke kon wees. Indien hulle met enige van die misdade verbind kan word, sal hulle eersdaags voor die hof gebring word.

Die deurbraak in 'n intensiewe polisie-ondersoek het gevolg nadat die polisie gereageer het op inligting wat hulle deur die loop van Dinsdag ontvang het oor waar die verdagtes hulle bevind.

Intussen het die polisie op Makhado (Louis Trichardt) begin met die ondersoek na 'n saak van gewapende roof, na 'n aanval Dinsdag omstreeks 18:10 by 'n plaaslike winkel. 'n Polisievrou, wat saam met haar vader in die winkel was, is na bewering van haar handsak, kontant, haar dienspistool en voertuig beroof.

Volgens die polisieverslag het die gewapende rower homself voorgedoen as 'n kliënt wat iets wou kom koop. Hy het skielik 'n vuurwapen tevoorskyn gebring en die polisie inspekteur en haar vader beveel om op die vloer te gaan lê. Sy is daarna beroof. Hy het hom met haar privaat voertuig, 'n wit Toyota Conquest, met registrasienommer DWK 322 N, uit die voete gemaak.

Enigiemand wat die voertuig opmerk, word versoek om met die naaste polisiestasie in verbinding te tree.

 

Written by

Frans van der Merwe

Frans van der Merwe is a freelance journalist with more than 40 years experience in the newspaper industry. Apart from newspaper reporting, he was also involved with radio news, news reading, training and marketing. He has been living and working in Louis Trichardt since 1991.

 

ADVERTISEMENT:

 

Recent Headlines