

ADVERTISEMENT:

News Date: 15 July 2011
Baie mense onthou nog die historiese oomblik toe die groot kruis buite Louis Trichardt aangeskakel is. Feesgangers het op 5 Oktober 2002 op die rugbyveld van Hoërskool Louis Trichardt vergader en na afloop van lofprysing en die boodskap van die kruis, het dié Christusfees sy hoogtepunt bereik toe die kruis vir die eerste keer verlig is.
Die afgelope klompie maande was die kruis egter vir lang tye donker. Mense het selfs die koerant geskakel om te hoor wat aangaan met die kruis.
Die goeie nuus is dat lede van die nuutgestigte Manne van die Woord op Saterdag, 2 Julie, saam na die kruis vertrek het om ondersteuning te verleen vir noodsaaklike onderhoudswerk. Die kruis is opgerig op die plot van mnr. Chris de Jager.
“By een van die arms van die kruis was daar ‘n kortsluiting. Om dit reg te maak, moes ons eers die arms laat sak,” sê mnr. Dries Briers, die visieleier met die oprigting van die kruis. Die kruis is ongeveer 24 meter hoog en 12 meter breed en bestaan uit ´n staalkonstruksie wat met kragkabels op ´n beton voetstuk geanker word.
“Dit was ‘n hele operasie van omtrent vier ure om die arms te laat sak. Drie dapper manne het hoog daarbo rondgeklouter, terwyl die ander hulle aangemoedig het,” sê mnr. Piet du Toit, wat die groep se mediaskakeling behartig.
Briers sê dat die ligte vervang gaan word en dat die staalstruktuur behandel en geverf sal word.
“Sodra die arms weer opgetrek word, kan ons die kruis weer aanskakel, al is ons nog besig met die verfwerk. Dit sal so twee tot drie weke vat om die nodige materiaal te kry,” sê Briers.
Die gemeenskap kan dus uitsien daarna dat die kruis oor ‘n paar weke weer sal brand. Die kruis met sy ligbane, wat ongeveer 400mm wyd is, is normaalweg saans tot in die omgewing van Bandelierkop sigbaar. Dit is ‘n bekende baken vir persone wat snags na en deur Louis Trichardt reis.
Du Toit sê dat die Manne van die Woord by een van die vroeë oggendbyeenkomste op Vrydae onderneem het om met die kruis te help. “Ons is opgewonde dat daar gewillige hande is om die onderhoud aan die kruis gedoen te kry,” het Briers hierdie week gesê.
Lede van verskillende kerke het destyds die poging gesteun, nadat die gedagte om ‘n verligte kruis op te rig ongeveer twee jaar voor die inwyding daarvan by ‘n bybelstudie groep van Briers ontstaan het.
“Ons moet onthou dat die kruis nie net daar is as ‘n versiering vir die dorp nie. Die kruis is daar om ons te herinner aan die prys wat Jesus Christus vir ons redding betaal het. Miskien was dit ‘n goeie ding dat die lig ‘n ruk af was. Nou kan ons opnuut herinner word aan die werk wat Jesus vir ons aan die kruis gedoen het,” sê Briers.
Linda van der Westhuizen has been with Zoutnet since 2001. She has a heart for God, people and their stories. Linda believes that every person is unique and has a special story to tell. It follows logically that human interest stories is her speciality. Linda finds working with people and their leaders in the economic, educational, spiritual and political arena very rewarding. “I have a special interest in what God is doing in our town, province and nation and what He wants us to become,” says Linda.

ADVERTISEMENT:
