ADVERTISEMENT:

 

Studie wys meeste inwoners stop nie

 

News  Date: 22 July 2011

 

Is die verkeersafdeling besig om hulle werk te doen?

Dit is die vraag in die gemoed van talle as daar gekyk word na die roekelose bestuurgewoontes van motoriste in Louis Trichardt en omstreke, veral as dit kom by die nakoming van verkeersreëls en –tekens.

Dit is duidelik dat veral stopstrate hul betekenis op Louis Trichardt verloor het en die Zoutpansberger het bietjie gaan ondersoek instel om te bepaal hoeveel mense wel nog stop.

Vier vier-rigting stopstrate is vir ‘n periode van ‘n uur lank oor twee dae gemonitor. Die kruising by Cilliers- en Rissikstraat en Krogh- en Ruhstraat is op Vrydag, 18 Julie, dopgehou, terwyl die kruising by Joubert- en Presidentstraat en Stubbs- en Krugerstraat op Saterdag, 16 Julie, gemonitor is.

Altesaam 1 758 is voertuie getel, met 335 voertuie tussen 13:20 en 14:20 by die Cilliers- en Rissikstraat-kruising, 394 tussen 14:23 en 15:23 by die Krogh- en Ruhstraat-kruising, 415 tussen 11:22 en 12:22 by die Joubert- en Presidentstraat-kruising en 614 tussen 12:43 en 13:43 by die Stubbs- en Krugerstraat-kruising.

‘n Vinnige paar berekenings het gewys dat 8% van motoriste glad nie gestop het nie, terwyl 52% van motoriste wel ‘n poging aangewend het om spoed te verminder, maar steeds nie gestop het nie. Volgens wet word blote spoedvermindering egter nie geag as stop nie, wat beteken dat 60% van motoriste in Louis Trichardt glad nie stop nie. Daar was darem die 40% wat wel gestop het.

Die ondersoek het bevind dat meeste motoriste wel gestop het wanneer daar reeds ‘n ander voertuig in of by die kruisings was. Ander motoriste het weer tot in die middel van die kruising gery voordat hulle tot stilstand gekom en dan weer gery het. Die gewildste neiging onder motoriste blyk egter te wees om so paar meter voor die stopstraat spoed te verminder, in die kruising van rat te verwissel en verder te ry.

In die Zoutpansberger van 24 Junie is die Makhado Munisipaliteit se woordvoerder, mnr. Louis Bobodi, gevra vir kommentaar oor die wettelose verkeerstoestand op die dorp en die algemene gevoel dat die munisipale verkeersafdeling weinig of niks doen om die probleem aan te spreek nie. Bobodi het geantwoord dat, alhoewel hulle ‘n personeeltekort het, hul verkeerspersoneel wel sigbaar is en hul werk doen. Tog, in die vier-uur periode oor die twee dae is geen verkeerspersoneel waargeneem by enige van die kruisings nie. Daar was wel een verkeersvoertuig wat amper gestop het by die kruising by Krogh- en Ruhstraat.

Bobodi is na afloop van die ondersoek weer gevra om kommentaar te lewer. Hy was steeds onwrikbaar in sy siening dat die munisipale verkeersafdeling wel hul werk doen, te midde van personeeltekorte. Hy het ook bygevoeg dat dit onder sekere omstandighede nie goed is vir motoriste om verkeersbeamptes te sien nie, want “dan word hulle nie verwag nie.” Lesers sal egter maar self moet besluit of die munisipale verkeersafdeling hul werk doen.

Daar is ook ‘n paar somme gemaak ten opsigte van inkomste wat die munisipaliteit kon verdien het as hulle daadwerklik ‘n poging sou aanwend om motoriste wat nie stop by stopstrate nie vas te trap en te beboet . Met ‘n boete van R1 500 vir die versuim om te stop by ‘n stopteken, is daar uitgewerk dat die munisipaliteit nagenoeg R400 000 sou geïn het in die vier-uur periode. Oor ‘n periode van ´n jaar kan dit die munisipaliteit miljoene in die sak bring, wat weer aangewend kon word vir instandhouding van infrastruktuur.

 

Written by

 

ADVERTISEMENT:

 

Recent Headlines