

ADVERTISEMENT:

News Date: 22 July 2011
‘n Bekende boer van die Soutpansberg-omgewing het Maandag saam met ´n mede-beskuldigde weer in die landdroshof op Louis Trichardt verskyn op ´n klagte van aanranding en opsetlike saakbeskadiging.
Carl Arthur Henning (45) van die plaas Moddervlei en Thomas Mpho Mudau (34) word daarvan beskuldig dat hulle op 5 Februarie 2009 ‘n prokureur op die plaas aangerand het. Henning is sedert 2003 die bestuurder van die plaas, in samewerking met die Moddervlei Vereniging van Gemeenskaplike Eiendom (VGE), met Mudau as huidige voorsitter.
Die prokureur, Eddie Shirhami Shirinda, het tydens ‘n vorige hofverskyning aangevoer dat ten minste 10 mense hom op die plaas aangerand het en sy selfoon beskadig het. Henning en Mudau was glo deel van die groep. Daar is besluit om net Henning en Mudau aan te kla, nadat die Direkteur van Openbare Vervolging beslis het dat daar op die oog af net ´n saak teen hulle is.
Shirinda het getuig dat hy saam met sy kliënt, Mack Nkuna, op die betrokke dag ‘n besoek aan die plaas gebring het om oor begrafnisreëlings ten opsigte van Nkuna se tannie te onderhandel. Volgens Shirinda het Henning geweier dat die vrou op die plaas begrawe word, ten spyte daarvan dat die Grondeisekommissaris toestemming daartoe gegee het. Dit is toe dat dinge glo skeef geloop het. Nkuna het getuig dat Henning, saam met Mudau en ander plaaswerkers, hom gegryp en aangerand het, voordat hulle hom van die plaas verwilder het.
Shirinda het aangevoer dat hy op die plaas was saam met Nkuna om Henning mee te deel dat die Grondeisekommissaris skriftelik beveel het dat die vrou daar begrawe mag word. Hy het aangevoer dat die Wet op Grondeise die Betredingswet troef en dat nie Henning of Mudau hom regtens van die plaas kon verjaag nie.
Tydens Maandag se hofverskyning het Henning en Mudau se regsverteenwoordiger gevra vir ontslag van die klagte teen hulle. Hy het aangevoer dat Shirinda sy getuienis aangedik het en sy saak op gebrekkige bewyse probeer bou het. Daar is volgens hom geen bewyse voor die hof gebring dat Shirinda fisies aangerand is in die vorm van ‘n doktersverslag nie. Die selfoon is ook nie deur Shirinda ingehandig by die Hof nie.
Landdros N. A. Mudau het egter die aansoek afgekeur en beslis dat Shrinda ‘n prima facie saak van aanranding het. Na aanleiding van die hof se besluit is Henning na die getuiebank geroep.
Henning het getuig dat Shirinda se kliënt persona non grata op die plaas was. Daar was ‘n algemene kennisgewing op die plaas uitgereik dat Nkuna nie op die plaas toegelaat mag word nie. Dit was, volgens Henning, omdat Nkuna glo gedreig het om hom, sy pa en ook Mudau, dood te maak. Hy het verder getuig dat Nkuna bitter was, omdat hy uit sy hoedanigheid as vorige voorsitter van die Moddervlei VGE gestem is.
Twee dae voor die beweerde aanranding plaasgevind het, het Nkuna glo die VGE toestemming gevra vir die begrafnis, wat egter afgekeur is.
Henning het getuig dat hy die Grondeisekommissaris se brief Maandag vir die eerste keer in die hof onder oë gehad het, omdat Shrininda die betrokke dag die brief net rondgeswaai het en nooit die inhoud bekendgemaak het nie. Volgens die brief, wat in die hof voorgelees is, het die Grondeisekommissaris nooit toestemming gegee tot die begrafnis nie, maar bloot gevra dat die bestuurder van die plaas die VGE moet vra om hulle besluit te heroorweeg in die hoop dat hulle tot ‘n meer gunstige besluit sou kom.
Shirinda, het Henning getuig, is van die plaas begelei toe hy geweier het om self die plaas te verlaat. “Hy het nie ‘n geveg opgesit nie, maar terwyl ons gepraat het, het hy [Shirinda] gesê hy sal ons ‘n les leer,” het Henning getuig.
Henning en Mudau se saak is uitgestel tot 11 Augustus, nadat die Hof se tolk weens persoonlike redes nie kon voortgaan met die saak nie.

ADVERTISEMENT:
