ADVERTISEMENT:

 

Los ons kinders uit," eis gemeenskap

 

News  Date: 14 November 2003

 

MAKHADO (LOUIS TRICHARDT) – Onregmatige dade waarin kinders die slagoffers is, noodsaak lede van 'n gemeenskap om uit te roep " Los ons kinders uit!"

'n Voorval op Sondag, 2 November, op Buysdorp, waarin 'n 17-jarige dogter met kookwater in die nek en gesig gegooi is deur 'n vorige vriend van haar moeder, het baie ontsteltenis in die gemeenskap uitgelok. Die dogter het 'n week in die Louis Trichardt Gedenkhospitaal deurgebring en sterk tans by haar grootvader se huis aan. Sy het ook haar skooleksamens misgeloop. 'n Saak van aanranding met die doel om ernstig te beseer is ge-open. Die saak kom op 17 November by die periodieke hof op Mara voor.

'n Lid van die gemeenskap, mev. Lucy Buys, het haar ten sterkste uitgespreek teen misdrywe teenoor kinders, asook misdrywe van 'n onsedelike aard. Mev. Buys sê dat die gemeenskap so iets nie geslote moet hou nie, ter wille van almal se kinders.

Insp. Fanie Mynhardt van die polisie se plaaslike Kinderbeskermingseenheid (KBE) het gesê dat die KBE gewoonlik in die somermaande 'n toename in gevalle van seksuele misbruik ondervind. Hy het dit in verband gebring met 'n toename in drankmisbruik op warm dae. Insp. Mynhardt sê hulle het die afgelope vyf jaar 'n 20 tot 30% toename in die aanmelding van gevalle by die KBE bemerk. Die plaaslike KBE se werksaamhede dek die breë Makhado Munisipale gebied. Kaptein Mawila van die KBE was van mening dat meer oortreders deesdae gestraf word en dat die swaar vonnisse 'n duidelike boodskap aan die gemeenskappe uitstuur. Hierteenoor het me. Hilke van Rensburg van die landroskantoor gesê dat sy van mening is dat die vonnisse wat die afgelope paar keer in die Louis Trichardt hof opgelê was vir seksuele misdrywe teenoor kinders, nie swaar genoeg was nie.

"Landswyd is hierdie misdrywe teenoor kinders 'n ernstige probleem. In ons dorp ondervind ons dit nog nie so ernstig nie. Nogtans is elke misdryf teen 'n kind een te veel," het me. Van Rensburg gesê.

"Wanneer 'n volwassene 'n misdryf teenoor 'n kind pleeg, verloor die kind vertroue in en respek vir volwassenes," sê mev. Hester Beukes, senior maatskaplike werker van die Christelik Maatskaplike Raad (CMR). Mev. Beukes sê dat die kind dikwels ook 'n gevoel van magteloosheid en hulpeloosheid in die situasie ervaar.

"Die meeste kinders vertel egter vir hul maats. Ek wil kinders motiveer om misdrywe aan te meld. Kinders kán beskerm word as hulle gaan praat. Dikwels kon 'n probleem verhoed gewees het as die maats lankal vir iemand daarvan gesê het," sê mev. Beukes.

Dr. Philip Venter van die NG Kerk Soutpansberg gemeente sê dat hy ondervind dat kinders soms nie 'n klag lê nie, omdat hulle nie weet of hulle dalk nog verder gaan seerkry nie.

Mev. Marie Helm, professionele berader en koördineerder van die opleiding vir slagofferbemagtiging, sê dat die slagoffer dikwels 'n gevoel ondervind van "Ek verdien dit, ek is sleg." Bemagtiging help 'n slagoffer om genesing te vind en nie later ook 'n oortreder te word nie. Die volwasse oortreder moet ook bemagtig word en genesing vind.

 

Written by

Linda van der Westhuizen

Linda van der Westhuizen has been with Zoutnet since 2001. She has a heart for God, people and their stories. Linda believes that every person is unique and has a special story to tell. It follows logically that human interest stories is her speciality. Linda finds working with people and their leaders in the economic, educational, spiritual and political arena very rewarding. “I have a special interest in what God is doing in our town, province and nation and what He wants us to become,” says Linda.

 

ADVERTISEMENT:

 

Recent Headlines