

ADVERTISEMENT:

News Date: 29 July 2011
Plaaslike landbouers se dieseltenks het nog brandstof, maar die verbruiker kan dalk die effek van die petrolstaking oor ‘n paar maande aan die sak voel, sê landbouers.
By vulstasies in Louis Trichardt is daar geen krisis met die beskikbaarheid van brandstof nie.
“Tans het die boere nog genoeg brandstof, maar die aanvulling is nie wat dit moet wees nie. Waar ons byvoorbeeld 2 000 liter bestel, kry ons net 1 000 liter. Die probleem lê by die vervoer van produkte na die mark toe,” het mnr. Stephen Hoffman, voorsitter van die Soutpansberg Distriks Landbou-unie (SDLU), Maandag gesê.
Werkers van die nywerheidschemikalieë- en petroleumsektor staak die afgelope drie weke. Die vakbonde eis 11 tot 13 % verhoging, ‘n minimumloon van R6 000 per maand en die afskaffing van arbeidsmakelaars. Hulle verwerp die werkgewers se aanbod van 8%.
Hoffman sê die vraag is nie hoe die staking die landbou gaan affekteer nie, maar hoe dit die verbruiker gaan affekteer. As vragmotors nie mark toe gaan nie, omdat hulle nie brandstof gaan hê om terug te kom nie, gaan die vars groente en vrugte op die rakke verminder. Die verbruiker gaan eerste in die spervuur wees.
Wanneer iets in die landbou gebeur, sien die verbruiker die impak eers oor drie of vier maande. Die verbruiker begin die effek agterkom as die winkel se rak leeg is . Die effek kan kom as die brandstofsituasie al weer herstel het. As die rakke leeg is, is dit ook nie die dadelik die volgende dag weer vol nie, die markketting moet eers deurwerk.
“Daar is baie implikasies vir boere. Melkboere is van verspreiding afhanklik, asook boere wat vleis mark toe stuur en karkasse na die abattoirs toe. Die vars produkte hier by ons, die baba murgpampoentjies, mielietjies en babapampoentjies, het ‘n vinnige draaityd. Dit moet vandag gepluk word en môre mark toe gaan, sodat daar nie meer as 48 uur verloop vandat die produk die land verlaat totdat dit by die verbruiker kom nie,” sê Hoffman.
Oor die langtermyn kan ‘n staking in die petroleumsektor die gevolg hê dat boere gekortwiek word in hulle grondvoorbereiding en die plant van die volgende oes. Boere wil ook gewoonlik grootmaat brandstof aankoop as die olieprys gunstig is. Nou moet hulle aankoop om te berg as die prys nie noodwendig gunstig is nie.
Boere hou dit altyd in gedagte dat groot hoeveelhede brandstof geberg moet word, maar wat van Jan Publiek?
By Bridge Auto het die publiek aanvanklik gestormloop om hul tenks vol te kry in geval van ‘n skaarste aan brandstof by die vulstasies. “Daardie paniekerigheid het nou afgeplat tot normaal,” sê me. André Gilfillan van Bridge Motors. Hulle ondervind geen probleem met die aflewerings van hulle depot in Polokwane nie. “Daar is nie intimidasie in Polokwane nie. Die stakers van Gauteng rus gelukkig naweke en toyi- toyi nie. Wanneer die stakers ‘n breek vat, kan die vragmotors weer ry,” sê Gilfillan.
Mnr. John le Cornu, eienaar van Mount Fuji Motors, sê dat hulle in hierdie stadium nog regkom. “Ons het geen probleem met die aflewering van brandstof nie. Hulle lewer elke keer op die regte dag af, al is dit ook nou twaalfuur in die nag. Die depot het ook nog nie laat weet dat hulle problem het nie,” sê Le Cornu.”
Die bestuurder van die Total Grarage, mnr. Paul Tshabalala , sê dat die staking hulle nog geensins geaffekteer het nie. “Ons het baie brandstof en ons aflewering is normaal,” sê Tshabalala.
Me. Alta Meintjes, onderbestuurder van Safari Motors se Caltex vulstasie, sê dat hulle ook nie deur die staking beïnvloed is nie. “Ons het toestemming by Caltex gekry om ons branstof plaaslik te kry en ons word glad nie geaffekteer nie,” het Meintjes gesê.
Linda van der Westhuizen has been with Zoutnet since 2001. She has a heart for God, people and their stories. Linda believes that every person is unique and has a special story to tell. It follows logically that human interest stories is her speciality. Linda finds working with people and their leaders in the economic, educational, spiritual and political arena very rewarding. “I have a special interest in what God is doing in our town, province and nation and what He wants us to become,” says Linda.

ADVERTISEMENT:
