

ADVERTISEMENT:

News Date: 05 August 2011
Coal of Africa Limited (CoAL) se Vele-steenkoolprojek naby die Mapungubwe Wêreld Erfenis-gebied is voorverlede Vrydag deur die Save Mapungubwe-koalisiegroep tot stilstand gedwing, aldus ‘n persverklaring deur die groep.
Dié koalisie van nie-regeringsorganisasies (NRO’s) het appèl aangeteken teen Vele se waterlisensie – ‘n proses wat die lisensie outomaties opskort tot die appèlsaak afgehandel is. CoAL se filiaalmaatskappy, Limpopo Colliery, het op 4 April die waterlisensie ontvang van die Departement van Waterwese.
Die koalisiegroep bestaan uit die Mapungubwe Action Group, die Endangered Widlife Trust, die Wilderness Foundation, BirdLife South Africa, die Association of Southern African Professional Archaeologists en die Peace Parks Foundation.
Die appèl verhoed nou die Vele-projek om grootskaals water te gebruik of te beweeg, en maak mynbedrywighede, soos die ontwatering van oopgroewe, onmoontlik.
Ná ’n proses van regstellings en nagenoeg R10 miljoen se boetes is CoAL vroeg in Julie vanjaar toegelaat om met Vele voort te gaan. Die goedkeuring het egter met ‘n string voorwaardes gekom. Ten spyte hiervan, was CoAL vasbeslote om binne ses tot nege maande met die projek te begin. Helaas moes alle aktiwiteite vir eers gestop word.
In antwoord hierop het CoAL se uitvoerende hoof, John Wallington, verlede Vrydag gesê dat hulle in die proses is om ‘n dringende versoek voor die Minister van Omgewingsake en Waterwese te bring om watergebruik toe te laat, terwyl die appèlsaak deur die Watertribunaal aangehoor word.
Volgens die NRO’s hou myn bedrywighede in dié gebied veral gevare in vir watersekuriteit, terwyl dit ook die kultuur- en toerismewaarde van Mapungubwe kan belemmer.
Isabel joined the Zoutpansberger and Limpopo Mirror in 2009 as a reporter. She holds a BA Degree in Communication Sciences from the University of South Africa. Her beat is mainly crime and court reporting.

ADVERTISEMENT:
