

ADVERTISEMENT:

News Date: 05 August 2011
Die Soutpansberg Distrikslandbou Unie (SDLU) is besig is met ‘n ondersoek na die moontlikheid om ‘n eie spaar- en kredietkoöperasie te stig.
Mnr. Stephen Hoffman, voorsitter van die Soutpansberg Distrikslandbou Unie (SDLU), sê dat dit tyd is om ‘n eie bank op die been te bring. “Daar is gewoon te min kompetisie tussen die kommersiële banke. Meer nog, dit is tyd dat die gemeenskap se geld so bestuur word dat die direkte voordeel weer op die gemeenskap gerig is. Aandeelhouers moet uit die gemeenskap afkomstig wees,” het Hoffman in ‘n persverklaring gesê.
Mnr. ZC Pretorius, ekonomiesesake verteenwoordiger van die SDLU, het gesê dat die spaar- en kredietkoöperasie gestig gaan word in terme van die Koöperasiewet (Wet nr. 91 van 1981). Verder gaan die koöperasie geregistreer word by SACCOL (Savings and Credit Co-operative League of South Africa).
“Die spaar- en kredietkoöperasie sal aanvanklik klein begin, maar daar word gehoop dat die instansie binne ‘n paar jaar meeste van die bankdienste beskikbaar sal kan stel, sodat lede nie meer so van die kommersiële banke afhanklik hoef te wees nie,” het Pretorius gesê.
Daar word nou gesoek na ‘n persoon met bankondervinding om die proses prakties in werking te stel. Die SDLU vra die gemeenskap om enige persoon met goeie bankondervinding, wat bereid is om hierdie groot gemeenskapsprojek aan te pak, na die SDLU kantoor te verwys.
Sake soos doelstellings, bevoegdhede, bestuur, lidmaatskap en lenings aan lede moet duidelik in die statuut van die spaar- en kredietkoöperasie uiteengesit word. Doelstellings van ‘n spaar- en kredietkoöperasie kan byvoorbeeld insluit om die ekonomiese welvaart van sy lede te bevorder, fondse van lede te ontvang deur die uitreiking van aandele, die aanvaarding van toelatingsgeld en die aanvaarding van deposito’s, die spaarsin van lede te bevorder deur voorsiening te maak vir spaarrekeninge waarop ‘n redelike rente betaal word, lenings aan lede te maak vir voorsienende en produktiewe doeleindes en ander doelstellings soos deur die lede bepaal.
Lenings sal slegs toegestaan word ooreenkomstig die doelstellings van die koöperasie. Die reëls vir die invordering en administrasie van lenings moet volledig op skrif gestel word. Lidmaatskap word deur die koöperasie bepaal.
Persone wat belangstel om die spaar- en kredietkoöperasie van die grond af te help kry, kan die SDLU kantoor skakel by 015 516 3963.
Linda van der Westhuizen has been with Zoutnet since 2001. She has a heart for God, people and their stories. Linda believes that every person is unique and has a special story to tell. It follows logically that human interest stories is her speciality. Linda finds working with people and their leaders in the economic, educational, spiritual and political arena very rewarding. “I have a special interest in what God is doing in our town, province and nation and what He wants us to become,” says Linda.

ADVERTISEMENT:
