ADVERTISEMENT:

 

generiese foto

Boere meen nuwe loon gaan tot afleggings lei

 

News  Date: 05 August 2011

 

Landbouers sê dat ondeurdagte verhogings van die minimumlone van plaaswerkers tot grootskaalse afleggings en meganisasie lei.

Die minimumloon van ‘n plaaswerker is tans R1 316 per maand. Dit verteenwoordig ‘n styging van 102% vanaf die loon van R650 in 2003.

“Die verhoging is meer as die inflasiekoers oor dieselfde tydperk en duisende plaaswerkers het reeds hulle werk verloor as gevolg daarvan dat landbouers nie langer die hoë salarisse kan bekostig nie,” het me. Roelien van der Walt, arbeidsverteenwoordiger van die SDLU, gesê.

Die reaksie volg op die Departement van Arbeid se openbare konsultasievergadering oor minimumlone vir die landbousektor wat op 25 Julie by die kantore van die Makhado Munisipaliteit in Louis Trichardt gehou is.

“Ons wil nie ‘n bykomende verhoging in die onderste perk van die loonstruktuur hê nie. Ons bly by die beginsel dat die verhoging per jaar die verbruikersindeks (CPIX) plus 1% moet wees,” het die voorsitter van die Soutpansberg Distrikslandbou-unie, mnr. Stephen Hoffman, aan die Zoutpansberger gesê.

Van die 1.2 miljoen werkers wat in 1994 in diens van die landbousektor was, is vandag bykans 500 000 plaaswerkers oor. As gevolg van die minimumloon wat in Maart in werking tree, het 125 000 werkers in die landbou in Maart vanjaar hul werk verloor, aldus Statistiek SA.

Kommersiële landbou is ‘n sektor wat jaarliks ‘n groot aantal ongeskoolde werkers in diens neem. Die sektor vra beskerming, sodat ongeskoolde of half-geskoolde werkers toegang tot die werkplek kan kry.

“Ons wil graag sien dat jongmense teen ‘n laer tarief in die landbou se arbeidsmag ingetrek word op ‘n wyse wat vir die werkgewer bekostigbaar is,” het Hoffman gesê.

Tydens die voorlegging op die vergadering het mnr. Fritz Ahrens, ondervoorsitter van die SDLU, ‘n beginnersloon van R750 per maand vir die eerste jaar, vir skoolverlaters en persone wat nog nooit op plase gewerk het nie, voorgestel.

Stukwerk, veral in die oesseisoen, is ‘n ander belangrike beginsel waar die landbou meer buigsaamheid in die arbeidsmark vra.

“Kom ons sê byvoorbeeld ‘n normale arbeider pluk op ‘n normale dag 20 kratte. Dan sal sy betaling so geskied dat hy ‘n vasgestelde tarief per krat verdien, wat uitgewerk word volgens die vasgestelde tarief per uur per dag. Die werker wat meer as dit pluk, kry dan meer geld. Op dié manier wil ons op‘n billike wyse die arbeider vergoed wat sy kant bring,” het Hoffman gesê.

Wat stukwerk ook vir die werkgewer aantreklik maak, is dat daar meer akkuraat ten opsigte van arbeid begroot kan word.

“Volgens die stukwerkbeginsel kry die werker wat die meeste doen, die meeste geld. Maar die Departement van Arbeid hou nie daarvan nie en wil hê almal moet dieselfde geld kry, maar ons weet nie almal doen dieselfde werk nie. Ons wil graag stukwerk ook in die wetboek sien,” het Hoffman gesê.

Ahrens het tydens die vergadering namens die SDLU gevra dat tydelike werkers of korttermyn kontrakte vir werkgewers beskikbaar moet wees, veral omdat baie take op ´n plaas seisoengebonde is. Hy het ook gevra dat die regering die arbeidsrekening van landbouers subsidieer. Arbeidskostes vorm 35% van ‘n landbouer se begroting. Volgens Statistiek SA is die winsmarge van landbou gemiddeld 9%.

Ahrens het die departement daaraan herinner dat onkoste van kunsmis, brandstof (diesel) en elektrisiteit jaarliks styg. Die prysstyging van 25% vir elektrisiteit is ver meer as inflasie. Verder het klimaatsverandering ‘n groot invloed op landbou en boere het geen beheer daaroor nie.

Verskeie wysigings ten opsigte van die landbouwerkers se voorsorgfonds is ook voorgestel. Hoffman het gesê dat sodra die proklamasie in die staatskoerant kom, hulle sal kan sien watter insette in ag geneem is.

“Dit het juis van georganiseerde landbou se kant gekom dat die verhoging van CPIX plus 1% in werking gestel is. Hulle neem dus wel ons insette in ag, en ons glo en vertrou dat hulle daarby sal bly,” het Hoffman gesê.

 

Written by

Linda van der Westhuizen

Linda van der Westhuizen has been with Zoutnet since 2001. She has a heart for God, people and their stories. Linda believes that every person is unique and has a special story to tell. It follows logically that human interest stories is her speciality. Linda finds working with people and their leaders in the economic, educational, spiritual and political arena very rewarding. “I have a special interest in what God is doing in our town, province and nation and what He wants us to become,” says Linda.

 

ADVERTISEMENT:

 

Recent Headlines