

ADVERTISEMENT:

News Date: 12 August 2011
Die verhoor van die vier mans wat daarvan beskuldig word dat hulle in Februarie 2009 die 78-jarige mev. Tienie Botha op Louis Trichardt vermoor het, het vandeesweek ná twee en ‘n halwe jaar begin.
Die vier, David Lihaiwa (29), Rudzani Mufamadi (29), Thobile Jili (26) en Thomas Ramudzuli (40), staan tereg op een klag van moord, een klag van gewapende roof en twee klagte van die onwettige besit van ‘n vuurwapen. Lihaiwa, Mufamadi, Zitha en Jili is op dieselfde dag van die moord aangekeer, nadat hulle versuim het om by ‘n padblokkade buite Polokwane te stop. Hulle is kort daarna deur die polisie voorgekeer en gearresteer. Vuurwapens, juwele en klerasie van wyle mev. Botha is glo in hul besit gevind. Ramudzuli is ‘n dag ná die moord op Elim aangekeer.
Een van die vyf verdagtes, Manuel Zitha, is einde Junie 2009 in die Elim Hospitaal oorlede.
Die vier mans se verhoor het Maandag begin tydens ´n sitting van die Hooggeregshof in die Louis Trichardt Landdroshof. Die Staat het eerste vir mevv. Elzabé en Annette Greyling, twee skoonsusters wat na bewering deur die vier aangeval is, as getuies geroep. Volgens hulle getuienis het die mans hulle by hulle huis in Andersonstraat aangeval, vasgebind en beroof sowat ´n maand voor Botha se moord.
Een van die beskuldigdes, Lihaiwa, was glo werksaam by PJ Timbers wat behoort aan Annette se egenoot. Lihaiwa het egter Maandag die feit heftig ontken. Die Staat het egter aangedui dat hulle later getuienis by die hof sal indien om die teendeel te bewys.
Teen druktyd was Annette nog besig om te getuig. Sy het Maandagmiddag begin getuig, na Elzabé. Die vier mans se verhoor was vir die hele week geskeduleer.
Isabel joined the Zoutpansberger and Limpopo Mirror in 2009 as a reporter. She holds a BA Degree in Communication Sciences from the University of South Africa. Her beat is mainly crime and court reporting.

ADVERTISEMENT:
