

ADVERTISEMENT:

News Date: 12 August 2011
‘n Voormalige inwoner van Louis Trichardt het verlede Vrydag ‘n paar oomblike van angs beleef toe sy vir vier kapers moes wegjaag op die N1-snelweg net buite Pretoria.
Marisa Naudé, ‘n oudleerling van Hoërskool Louis Trichardt, se koelkop optrede het heel waarskynlik verhoed dat sy die jongste slagoffer van kapers geword het. Naudé, wat nou in Gauteng woon, was onderweg na haar ouers, André en Martie Naudé op Louis Trichardt, toe die drama ontvou het. Sy het Maandag vertel van haar noue ontkoming.
Marisa was net verby die PetroPort gewees, toe sy agtergekom dat ‘n Opel Astra met vier mans haar BMW begin agtervolg. Sy het skaars twee weke gelede die BMW aangeskaf.
Eers het Naudé niks daarvan gedink nie, maar toe die Opel begin ligte flits en haar van die pad af probeer forseer, het sy besef daar is groot fout. “Die Opel het in ‘n stadium voor my gery – oor altwee bane – terwyl die bestuurder vir my gewys het ek moet aftrek,” het Naudé gesê.
In ‘n poging om die mans af te skud, het sy toe gemaak of sy gaan stop, en toe die Opel van die pad begin aftrek, het sy weggejaag. “Toe jaag ek … en jy sal nie glo nie, maar daai Opel haal my toe in!”
Dit is toe dat Naudé haar pa, ‘n plaaslike prokureur wat toe in die hof was, skakel. Sy wou darem hê mense moet weet waar om na haar te begin soek, sou iets met haar gebeur. “Dit is eintlik ‘n wonder dat hy geantwoord het, want hy antwoord nooit sy selfoon in die hof nie,” het Marisa gesê.
Die polisie is dadelik geskakel en die Opel se registrasienommer en Marisa se ligging is deurgegee aan die blitspatrollie. ‘n Paar angstige oomblike het vir Pa André gevolg, terwyl die polisie selfoonkontak gehad het met Marisa en hy nie self met haar kon praat nie. Die polisie het haar deur die situasie gepraat en op hoogte gehou van die blitspatrollie se ligging. Met die polisie se intrede, vertel Marisa, is die drama vinnig ontlont. “Toe die polisie intree, het die Opel net verdamp.”
Met rede ook, want na die tyd het dit aan die lig gekom dat die Opel se registrasienommer verbind word met meer as ‘n 100 klagtes en meer as 200 vervalste adresse het.
“Die polisieman wat met my gepraat het op die foon het na die tyd gesê die feit dat ek op die foon gepraat het en hulle gesien het dat ek hulle nommer afneem, sekerlik my lewe gered het.” Net verby Hammanskraal het die Opel verby Marisa geskiet en weggejaag. Naar van skok het Marisa by Kranskop gestop om haar pa te skakel. Van daar het sy net gery om by die huis te kom.
“Dit was absoluut net die Here se hand wat my beskerm het. Alles kon so anders uitgedraai het as my pa nie sy selfoon Vrydag geantwoord het nie,” het Marisa gesê.
Isabel joined the Zoutpansberger and Limpopo Mirror in 2009 as a reporter. She holds a BA Degree in Communication Sciences from the University of South Africa. Her beat is mainly crime and court reporting.

ADVERTISEMENT:
