ADVERTISEMENT:

 

Op Dinsdag, die tweede dag van die loonstaking deur munisipale werkers, is rommel gestrooi in sommige strate in Louis Trichardt. Die SBBV loods hier ´n skoomaakpoging in Kroghstraat. Die poging is later in die wiele gery deur intimideerders.

SAMWU-staking stink!

 

News  Date: 19 August 2011

 

Na Maandag (15 Augustus) se aanvanklik rustige begin van die SAMWU-staking op Louis Trichardt, het die stakers Dinsdag hande uitgeruk en selfs sover gegaan om menslike ontslasting in die Raadsgebou te gooi.

Een besoeker aan die middedorp het dit as ‘n varkhok beskryf. Nog meer walglik was die stank van ontlasting wat deur stakers in die munisipale gebou rondgegooi is. “Ek het by die munisipale gebou ingestap en die hele plek het gestink. Die hele voorste vloer was met saagsels bedek wat oor rou riool gestrooi is. Almal loop met maskertjies voor hulle gesigte. Dit vrot!” het me. Leonie Oberholzer opgemerk.

Voor haar besoek aan die munisipale g ebou, het Oberholzer stilgestaan in Kroghstraat en gekyk waar die belastingbetalersvereniging begin het met die skoonmaak van Kroghstraat.

“Dit is onnodig om rommel te strooi. Jy kan toyi-toyi, maar hoekom al die gemors uitgooi. Die munisipale werkers het tog ‘n pensioenfonds en medies, meer voordele as ons gewone mense,” het Oberholzer gesê. Sy het na die flukse skoonmakers wat deur die Soutpansberg Belastingbetalersvereniging (SBBV) gebring is, verwys en gesê dat sulke mense wat bereid is om hard te werk, eerder permanente poste moet kry.

As lid van die dagbestuur van die SBBV het me. Aretha Smit inisiatief geneem en begin met ‘n skoonmaakpoging in Kroghstraat tussen Erasmus en Songozwi begin. Die SBBV het vier werkers in diens geneem vir hierdie poging. “Dit lyk vuil. Die munisipaliteit moet nie so maak nie,” het een van die skoonmakers, mnr. Steven Machaba, gesê.

Mnr. Walter Gilfillan, SBBV dagbestuurlid, het gesê dat sy tannie, me. André Gilfillan, van Bridge Auto, 200 swart sakke geborg het vir hierdie poging. “Dit is ‘n goeie manier om te wys dat die SBBV ‘n plan kan maak om ons dorp skoon te hou. Ons doen baie agter die skerms en tree hiermee ‘n bietjie op die voorgrond,” het mnr. Chrisjan van den Berg, voorsitter van die SBBV gesê. Van den Berg het ook gesê dat die munisipaliteit as sulks nie verantwoordelik gehou kan word vir die rommelstrooiery nie, omdat dit die werkersunies is wat die mense aanhits.

“Die regering moet egter nie te veel ingee vir hierdie tipe eise nie. Elke jaar as dit tyd is vir loonverhogings dan steek dit kop uit,” het Van den Berg gesê.

Nadat die skoonmakers ongeveer ´n uur en ´n half gewerk het en heelwat swartsakke vol rommel versamel is, het ‘n intimidasie-aksie teen die skoonmakers die veldtog in die wiele gery.

“Die intimideerders het vir die skoonmakers gesê dat hulle hul gaan doodmaak. As gevolg van hulle houding het ons die skoonmaakpoging opgeskort.

Die SBBV beskou hulle hantering van die saak deur middel van intimidasie as swak. Dis die mense wat dit weer sal moet kom skoonmaak. "Dis eintlik belaglik,” het Van den Berg laat Dinsdagmiddag gesê.

Die Suid-Afrikaanse Munisipale Werkersunie (SAMWU) eis ‘n 18% salarisverhoging en betoog teen die 6% wat deur SALGA aangebied word.

Intussen het munisipale woordvoerder, mnr. Louis Bobodi, Dinsdag gesê dat die munisipale kantore oop sal bly te midde van die staking en dat dienste ten opsigte van water en sanitasie, elektrisiteit en vullisverwydering steeds gelewer sal word. Hy het ook mense met navrae oor dienste genooi om 015 516 2990 te skakel.

 

Written by

Linda van der Westhuizen

Linda van der Westhuizen has been with Zoutnet since 2001. She has a heart for God, people and their stories. Linda believes that every person is unique and has a special story to tell. It follows logically that human interest stories is her speciality. Linda finds working with people and their leaders in the economic, educational, spiritual and political arena very rewarding. “I have a special interest in what God is doing in our town, province and nation and what He wants us to become,” says Linda.

 

ADVERTISEMENT:

 

Recent Headlines