ADVERTISEMENT:

 

Die 78-jarige mev. Tienie Botha wat op 19 Februarie 2009 op Louis Trichardt vermoor is.

Ongelukkigheid ná verdagtes vrygeskeld word

 

News  Date: 19 August 2011

 

Die Botha-familie op Louis Trichardt dring aan op ‘n appèl in die moordsaak van wyle mev. Tienie Botha. Dit volg nadat twee van die vier beskuldiges in die saak deur die Hooggeregshof kwytgeskeld is van die moord op die 78-jarige mev. Botha in Februarie 2009.

Die vier mans, David Lihaiwa (29), Rudzani Mufamadi (29), Thobile Jili (26) en Thomas Ramudzuli (40), het terreggestaan op twee klagte van huisbraak, vier klagte van die onwettige besit van ‘n vuurwapen, twee klagte van die onwettige besit van ammunisie, een klag van roof met verswarende omstandighede en een klag van moord. ‘n Vyfde verdagte, Manueal Zitha, is einde Junie 2009 in die Elim Hospitaal dood. Buiten die moord op mev. Botha, hou die klagte ook verband met die gewapende roof by die Greyling-familie op Louis Trichardt in Januarie 2009.

Die mans se verhoor het verlede Maandag begin tydens ‘n sitting van die Hoogeregshof in Louis Trichardt en het tot Vrydag geduur.

Al vier die mans is onskuldig bevind op die klag van huisbraak by die Greyling-gesin. Regter Majake Mabesele het bevind dat daar nie genoegsame bewyse was vir ‘n skuldigbevinding nie.

Tydens die verhoor het die Staat eerste vir mevv. Elzabé en Annette Greyling, twee skoonsusters wat na bewering deur die vier aangeval is, as getuies geroep. Volgens hulle getuiens het die mans hulle by hulle huis in Andersonstraat aangeval, vasgebind en beroof sowat ‘n maand voor Botha se moord.

Annette het Mufamadi, Lihaiwa en Ramudzuli in die hof uitgeken as haar aanvallers. Sy het Lihaiwa herken aan sy stem en ‘n krom skouer, omdat hy vir haar man se onderneming, PJ Timbers gewerk het. Dit was ten spyte daarvan dat Lihaiwa ‘n klapmus gedra het.

Regter Mabesele het hierop gesê dat hy nie kon sien dat Lihaiwa ‘n krom skouer het nie en dat Annette ‘n fout kon maak met die uitkenning van Lihaiwa se stem, omdat sy tydens die roof in skok was. Elzabé kon nie die aanvallers uitken nie, het sy getuig, omdat sy vasgebind in die badkamer gelê het. Ná haar hofverskyning het sy vertel dat beide sy en Annette se gesondheid geweldig agteruitgegaan het na die aanval. Annette is gediagnoseer met hartprobleme.

Die Staat het hierna die polisiebeamptes geroep wat die mans gearresteer het ná die moord op mev. Botha, asook die twee kontrakteurs wat buite haar huis beroof is deur die mans. Dit was in hierdie stadium dat die beskuldiges aangevoer het dat hulle deur die polisie aangerand en geforseer is om verklarings en uitwysings te maak. Regter Mabesele het beslis dat in Mufamadi en Lihaiwa se gevalle die polisiebewyse toelaatbaar is.

“Lihaiwa het in sy verklaring erken dat hy nie aangerand is nie en gesê dat hy die inbraak- en moordtoneel wil uitwys om sy hart skoon te maak,” het Mabesele tydens sy uitspraak gesê.

Hierna het Vincent Zulu en Robert Kwinda vir die Staat getuig. Hulle moes die dag van mev. Botha se moord haar dak herstel en het buite die huis gewag dat sy vir hulle die hek kom oopsluit. Terwyl hulle gewag het, het hulle getuig, het die vier mans vanuit die huis op hulle afgestorm en hulle beroof. Zulu het die mans in die hof uitgeken as die aanvallers. Sy selfoon was ook tussen die goedere wat by Mufamadi en Lihaiwa teruggekry is, toe hulle in Polokwane aangekeer is. Juwele en vuurwapens wat aan mev. Botha behoort het, is deur haar twee dogters, mevv. Susaar Shlesinger en Henriette du Toit, uitgewys.

Dit is op hierdie “onbetwisbare getuienis” dat Regter Mabesele Mufamadi skuldig bevind het aan die moord op mev. Botha. Mufamadi is tot lewenslange tronkstraf gevonnis. Op die klag van huisbraak en roof het hy onderskeidelik 15 en 20 jaar gevangenisstraf gekry. Op die klagte van die onwettige besit van ´n vuurwapen en ammunisie het hy altesaam vyf jaar gevangenisstraf gekry.

Lihiawa is onskuldig bevind aan die moord. Hy is wel skuldig bevind op die klag van huisbraak en roof, waarvoor hy onderskeidelik 15 en 18 jaar gevangenisstraf opgelê is. Hy is ‘n verdere 15 jaar opgelê vir die onwettige besit van ‘n vuurwapen.

Die ander twee beskuldiges, Jili en Ramudzuli, is vrygelaat met ‘n waarskuwing. “Julle moet pasop!” het Regter Mabesele vir hulle gesê, voor hulle uit die beskuldigde bank geloop het.

Ná afloop van die saak het mnr. Pieter F. Botha, mev. Botha se seun, gesê dat die familie met skok verneem het dat twee van die verdagtes losgekom het.

“Ons hoop dat die Staat appèl sal aanteken, want ek is seker dat daardie twee dan skuldig bevind sal word,” het Botha gesê.

 

Written by

Isabel Venter

Isabel joined the Zoutpansberger and Limpopo Mirror in 2009 as a reporter. She holds a BA Degree in Communication Sciences from the University of South Africa. Her beat is mainly crime and court reporting.

 

ADVERTISEMENT:

 

Recent Headlines