

ADVERTISEMENT:

News Date: 19 August 2011
Die Suid-Afrikaanse Polisiediens sal vinnig duisende rande in skadevergoeding moet opdok, anders is die Musina SAPD dalk binnekort talle van hulle polisievoertuie kwyt.
Dit volg nadat die balju in Julie vanjaar 13 voertuie by die stasie opgeskryf het, nadat vyf eksekusielasbriewe in die Landdroshof op Musina toegestaan is.
Die polisie het glo versuim om skadevergoedingseise aan vier eisers, Isaac Ramuthivheli, Calvin Gerald Bell, Steyn Mostert en Vivian Birch, uit te betaal.
Volgens die vier se regsverteenwoordiger, mnr. Hennie Erwee van Musina, spruit die eise uit onregmatige arrestasies gedurende 2008 tot 2010. Hy het toe namens die vier die Minister van Veiligheid en Sekuriteit gedagvaar op elke klag van onregmatige arrestasie. In Birch se geval was daar twee klagtes.
In Ramtuhivheli se geval is hy vir aanranding in hegtenis geneem, sonder ‘n lasbrief, terwyl Bell, Mostert en Birch gearresteer is vir dronkbestuur. In hulle geval is hulle gearresteer sonder dat hulle fisies ‘n voertuig bestuur het. Die arrestasies het by hulle huis plaasgevind.
Al vier die eisers, sê Erwee, het ‘n dag in die polisieselle deurgebring.
Die Hooggeregshof het Erwee gelyk gegee dat sy kliënte onregmatig gearresteer is. Birch, Bell en Mostert is elk R100 000 in skadevergoeding toegestaan. Aan Ramtuhivheli is R68 320 toegestaan.
Alhoewel daar in van die eisers se gevalle al rente en kostes van die polisie ontvang is, het Erwee gesê dat die veiling sal voortgaan indien die volle vonnisbedrag nie voor of op die datum van die veiling ontvang is nie. Die veiling word beplan vir 26 Augustus.
Provinsiale polisiewoordvoerder lt. kol. Ronel Otto het Dinsdag gesê dat daar tans geen “uitstaande eise is nie en dat die Musina SAPD se voertuie veilig is". Volgens haar behoort al die eisers se gelde teen volgende week in hulle bankrekeninge te reflekteer. Die laat betaling word glo deur administratiewe rompslomp tussen die polisie se administrasiekanale en die bank veroorsaak.
Isabel joined the Zoutpansberger and Limpopo Mirror in 2009 as a reporter. She holds a BA Degree in Communication Sciences from the University of South Africa. Her beat is mainly crime and court reporting.

ADVERTISEMENT:
