

ADVERTISEMENT:

News Date: 19 August 2011
Alhoewel die griepseisoen einde se kant toe staan, is dit lank nog nie verby nie.
Gerugte het verlede week die rondte begin doen dat die gevreesde pandemiese H1N1-virus, beter bekend as varkgriep, weer kop uitgesteek het in Louis Trichardt.
Plaaslike geneesheer dr. Fred Badenhorst het egter die publiek gerusgestel en gesê daar is geen rede tot paniek nie. Pandemiese H1N1 word deesdae as seisoenale griep beskou en die antivirale medisyne Tamiflu word net vir hoë-risiko pasiënte voorgeskryf. Dit, sê Badenhorst, is om te voorkom dat die griepvirusse ‘n weerstand teen Tamiflu opbou.
“As die virus bestand raak teen Tamiflu, gaan ons van vooraf moet soek vir ‘n ander bestrydende medisyne.”
Hoë-risiko pasiënte sluit in kinders onder vyf, swanger vroue en mense met onderdrukte immuniteitstelsels. Varkgriep kan lewensgevaarlik wees vir sulke pasiënte en hulle word onmiddelik behandel met Tamiflu. ‘n Keelsmeer word gedoen om te toets vir die virus, maar dit kan tot drie dae vat vir laboratoriumuitslae om terug te kom van Polokwane af.
Meeste mense word vanself gesond van verkoue of griep deur te rus en genoeg vloeistowwe te drink, sê Badenhorst. Hy beveel egter aan dat ‘n loopneus, lyfseer en droë hoes wat nie binne twee dae beter word nie, aandag moet kry.
Isabel joined the Zoutpansberger and Limpopo Mirror in 2009 as a reporter. She holds a BA Degree in Communication Sciences from the University of South Africa. Her beat is mainly crime and court reporting.

ADVERTISEMENT:
