ADVERTISEMENT:

 

‘n Groepie van die Graad 7’s by ‘n sneeuman wat hulle gebou het op 15 Augustus toe hulle deur sneeu vasgekeer is by Van Reenenspas. Van links is Wynand Mouton, Dylon van Zyl, Hendrie Denner, Carlien Jordaan, Veruska van der Linde en Damian Scholtz. Foto verskaf.

Triegies se seetoer word sneeutoer

 

News  Date: 19 August 2011

 

Agt ure vasgekeer by van Reenenspas weens swaar sneeu word ‘n opwindende en onvergeetlike ervaring …

Die groot groep Graad 7-leerders van Laerskool Louis Trichardt het nie met hul vertrek Sondagdaand (14de) besef dat hul seetoer ‘n sneeutoer sou word nie. Die reis na die TO-Strand, die bestemming van die skool se jaarlikse seetoer, was voorspoedig tot Maandagoggend om 02:25.

“Anderkant Villiers op die N3 het dit skielik begin ysreën en het die weerligstrale met reëlmaat die hemelruim verlig. Ons het voortgery tot tussen Warden en Harrysmith, toe ons besef die ysreën is nou sneeuvlokkies. Ons het tromp-op in ‘n hewige sneeustorm vasgery. Die sneeu het horisontaal teen die windskerms vasgewaai, wat die sig vir die busbestuurders bemoeilik het. Die hele pad was wit van die sneeu en ons het 30km/h agter ’n groot vragmotor se twee spore aangery,” sê die skoolhoof, mnr. Louis Linde, wat die een bus bestuur het. Die ander bus is bestuur deur mnr. Tienie Venter, met me. Irene Adendorff, adjunkhoof, ook aan boord.

Die oomblik toe die 79 leerlinge besef dit is sneeu, was die vaak weg en was daar nie meer sprake van slaap nie. “Die kinders het uitbundig geskreeu en vensters oopgemaak en sneeuvlokkies probeer vang! Ons het stadig voortgery en by Harrysmith gesien die hele dorp is wit van die sneeu. Vooraf het ons besluit om by die Caltex-vulstasie by Van Reenen te stop om brandstof in te neem. Ons het later besef watter bestiering dit was,” sê mnr. Linde.

Net nadat die groep om 04:00 daar gestop het, is die N3 vir verkeer gesluit. Vragmotors en ‘n passasiersbus het in die pas gegly, geknipmes en die N3 snelweg versper. Altesaam 57 vragmotors het tussen Harrysmith en Van Reenen gestrand gestaan.

By die Caltex-vulstasie het die eienaar hom dadelik oor die Triegies ontferm. Hy het gereël dat sy restaurant oopgesluit word en het ‘n kaggelvuur aangesteek. Na ‘n heerlike ontbyt, het die kinders die sneeu ingevaar.

“Hulle was oorstelp van vreugde deur hierdie sneeu ervaring. Wanneer hulle hande en voete ´te blou´ was van die koue, het hulle in die restaurant ingehardloop om ‘n bietjie hitte te vind by die kaggelvuur,” sê Linde.

“Dit het baie gesneeu en ons het in die sneeu gespeel. Ons het mekaar met sneeuballe gegooi en sneeumanne gemaak. Dit was my eerste keer in die sneeu; ek dink dit was omtrent almal se eerste keer ...” vertel een van die Graad 7’s, Dialize Grobler.

In daardie stadium het die nooddienswerkers al ‘n beheersentrum by Van Reenen opgerig. “Die bevelvoerder van die nooddienste was heeltyd met ons in verbinding oor hulle vordering. Hulle was baie besorg oor die leerlinge se veiligheid,” sê Linde.

Groot trekkers is gestuur om die 15 vragmotors wat die pad versper het, uit die sneeu te sleep. Die hulp van die polisie en die weermag is ook ingeroep. Die sneeu is met stootskrapers van die pad gestoot en die pad is met sout bestrooi.

Maandag teen 10:00 het dit ligter begin sneeu en om 12:00 is die groenlig gegee dat die pad oopgestel word.

“Ons is toe deur noodvoertuie die pas af begelei. Die twee Triegiebusse voor, met 57 vragmotors agter ons het teen ‘n slakkepas Van Reenenspas afgery of eerder afgegly! ‘n Verdere seën het ons begroet. Sover die oog kan sien, was dit net wit! ‘n Helder, verblindende wit kleur – moeilik om te beskryf. Ons het gevoel dat ons ons in ‘n sprokieswêreld bevind,” sê Linde.

Intussen het die Triegies veilig by die TO-Strand, naby Port Edward, aangekom en geniet hulle nou weer die seewater. Die groep word Saterdag (20ste) terugverwag.

 

Written by

Linda van der Westhuizen

Linda van der Westhuizen has been with Zoutnet since 2001. She has a heart for God, people and their stories. Linda believes that every person is unique and has a special story to tell. It follows logically that human interest stories is her speciality. Linda finds working with people and their leaders in the economic, educational, spiritual and political arena very rewarding. “I have a special interest in what God is doing in our town, province and nation and what He wants us to become,” says Linda.

 

ADVERTISEMENT:

 

Recent Headlines