

ADVERTISEMENT:

News Date: 26 August 2011
Die oud-onderwyser van Musina wat verlede jaar skuldig bevind is op ´n klag van onsedelike aanranding van ´n kind, sukkel glo om werk te kry.
Sebastiaan van der Merwe (48), wat tans uit is op parool hangende die uitslag van sy appèlsaak, het Maandag, 22 Augustus, ´n aansoek in die Streekhof in Louis Trichardt gebring om sy borgvoorwaardes te verslap en ´n gedeelte van sy borggeld terug te kry.
Streekshofaanklaer Hilke Janse van Rensburg het hom, wat betref sy borggeld, egter meegedeel dat die hof nie ‘n bank is nie, waarna die hof sy aansoek afgekeur het.
Van der Merwe, beter bekend as Basie, het op 6 Julie verlede jaar begin om sy ses-jaar-lange gevangenisstraf uit te dien, nadat hy skuldig bevind is op die klag van onsedelike aanranding. Die aanranding het plaasgevind terwyl hy ‘n onderwyser by Hoërskool Eric Louw op Musina was.
Ná net vyf maande agter tralies is hy op R15 000 borg vrygelaat, nadat sy aansoek om verlof tot appèl in die Noord-Gauteng Hooggeregshof in Pretoria in Desember toegestaan is. As deel van sy borgvoorwaardes moes hy twee keer ‘n week by die polisiestasie in Honeydew aanmeld. Na sy vrylating het Van der Merwe by sy broer, Janus, in Honeydew gaan woon.
Tydens Maandag se verskyning het Basie ‘n aansoek by die hof ingedien waarin hy R5 000 van sy borggeld terug gevra het. Sy regsverteenwoordiger, me. Katie Jordaan, het aangevoer dat hy tans werkloos is en sukkel om werk te kry. Van der Merwe het ook gevra dat sy borgvoorwaardes verminder word, sodat hy net een keer ‘n week by die polisiestasie hoef aan te meld.
Hierteen het die Staat kapsie aangeteken en aangevoer dat Van der Merwe ´n vlugrisiko is en dat die borggeld die enigste houvas is wat die hof op hom het. Van der Merwe se familie, het die Staat verder gesê, kom gereeld in Zimbabwe en hy kan maklik sy hofverskynings ontduik.
Van der Merwe se regsverteenwoordiger het aangevoer dat hy te siek is om te reis en steeds by Honeydew sal aanmeld. Hy het glo tans nie enige planne om terug te keer na Musina toe nie en het daarom sy aansoek vir sy paspoort teruggetrek.
In sy beslissing het die Hof die Staat gelyk gegee dat Van der Merwe ‘n vlugrisiko bly en dat sy aansoek verdag voorkom, nadat die aansoek vir sy paspoort in camera teruggetrek is. Landdros Pat Cloete het gesê dit wil voorkom dat die enigste rede vir die aansoek was om ´n deel van die borggeld terug te kry.
Van der Merwe se borgvoorwaardes is gelig, maar die aansoek vir sy borggeld is afgekeur. Hy mag steeds nie kontak maak met die seun of enige ander getuies in die saak nie.
Intussen is daar nog steeds geen datum vasgestel vir Van der Merwe se appèlsaak nie. Sy regspan, Jordaan en advokaat Graham Kerr-Phillips, het verlede jaar gesê dat die Hooggeregshof die appèlaansoek volledig toegestaan het. Hulle het aangedui dat hulle die seun se getuienis en die landdros se uitspraak en vonnis sal betwis deur nuwe getuienis te bring. Volgens hulle het die landdros in die saak gefouteer deur slegs uitspraak te lewer op grond van die seun se getuienis.
Isabel joined the Zoutpansberger and Limpopo Mirror in 2009 as a reporter. She holds a BA Degree in Communication Sciences from the University of South Africa. Her beat is mainly crime and court reporting.

ADVERTISEMENT:
