

ADVERTISEMENT:

News Date: 02 September 2011
Die toneelgroep van Hoërskool Louis Trichardt is vir die tweede agtereenvolgende jaar aangewys as die Gauteng-streekswenners.
As deelnemers aan die ATKV Tienertoneel het hulle die stuk Loodballon op 26 Augustus by die UNISA Kleinteater in Pretoria opgevoer. Die volgende aand het hulle aan die streeksfinaal deelgeneem en stof in die oë geskop van 24 ander skole, waaronder topskole soos Waterkloof, Afrikaans Hoër Seunsskool, Menlopark, Centurion en Helpmekaar.
Nou wag die groep om te hoor of hulle uitgenooi gaan word om by Aardklop deel te neem. Verlede jaar is hulle met Kolom as nasionale wenners by Aardklop aangewys.
“Loodballon handel oor twee sussies in ‘n koue huis. Hulle probeer saam die paaie van grootword hanteer. Een van die sussies het ‘n donker geheim wat albei se lewens verander,” sê Nico Scheepers, wat vir die teks, regie en choreografie van die stuk verantwoordelik was. Hy het ‘n silwer toekenning, die hoogste op die streekfees, ontvang vir al hierdie aspekte. Net so het elke verhoogspeler en elke lid van die tegniese span ‘n silwer sertifikaat ontvang.
Nico verduidelik dat Loodballon fisiese teater is, waar liggaamsbewegings en momente op die verhoog uitgebeeld word om emosie te kommunikeer. Een van die beoordelaars, Johan Nel, ‘n bekende akteur en radiopersoonlikheid, het na die stuk en die gebruik van lig en kleur verwys as ´n "lewende skildery”. Ander het na die stuk as ‘n “professionele produksie” verwys.
Me. Nellie Wolmarans, die skool se toneelorganiseerder, is baie trots op die kinders. Nico sê dat die kinders ook waar hulle af van die verhoog was, geprys is vir hul gedissiplineerdheid en teateretiket.
Loodballon word spesiaal weer op 21 September in die skoolsaal opgevoer en die groep vra die gemeenskap se heelhartige ondersteuning. Die kaartjies is R50 vir volwassenes en R20 vir skoliere. Laerskoolkinders moet verkieslik vergesel wees van hul ouers en die stuk is nie geskik vir baie jong kinders nie. Plekke kan bespreek word by me. Laura Jacobs by die skoolkantoor. Vir meer inligting kan die skool by 015 516 4965 geskakel word.
Linda van der Westhuizen has been with Zoutnet since 2001. She has a heart for God, people and their stories. Linda believes that every person is unique and has a special story to tell. It follows logically that human interest stories is her speciality. Linda finds working with people and their leaders in the economic, educational, spiritual and political arena very rewarding. “I have a special interest in what God is doing in our town, province and nation and what He wants us to become,” says Linda.

ADVERTISEMENT:
