ADVERTISEMENT:

 

Onwettige smouse vervaardig en smous tuinmeubels- en beelde in die munisipale park in Boababstraat aan verbygangers.

Munisipale park nou ´n gratis sakeperseel?

 

News  Date: 02 September 2011

 

Vir etlike maande al word die munisipale park in Boababstraat deur plaaslike “entrepreneurs” gebruik om hulle ware van die hand te sit.

By hierdie straatmark kan inwoners tuinmeubels of kunswerke koop, ‘n sleepwaentjie huur of selfs ‘n tweedehandse motor aanskaf. Soms is daar meer as een voertuig om van te kies. Met die Zoutpansberger se besoek aan die park Dinsdagoggend was daar egter net een Citi Golf wat uitgestal gestaan het, met ‘n saamgeflansde pryskaartjie van karton. Sowat twee weke gelede het daar boonop ‘n "kampeerder" tent opgeslaan onder een van die bome in die park.

Munisipale woordvoerder mnr. Louis Bobodi is dieselfde dag genader in ‘n poging om uit te vind of die besigheidsmanne en bewoners aansoek gedoen het om in die park te plak en gratis vanaf ´n munisipale perseel sake te doen? In antwoord het hy gesê die munisipaliteit is nie bewus van die praktyk nie.

“Indien dit die geval sou wees, is die mense besig is met onwettige praktyke,” het Bobodi gesê en onderneem dat die saak ondersoek sou word. Later dieselfde dag het Bobodi laat weet dat ‘n munisipale beampte die park besoek het en al die verkopers beveel het om pad te gee.

“Hulle [die verkopers] is gewaarsku dat hulle volgende keer beboet sal word en dat die munisipaliteit op hulle goedere beslag sal lê,” het Bobodi gesê.

Dit was egter duidelik dat die plakkers nie veel ag geslaan het op die munisipaliteit se waarskuwing nie. Teen die middag was die situasie nog onveranderd. Bobodi is weer geskakel om uit te vind waarom hulle steeds daar is. Hierop het hy die koerant versoek om Woensdag maar weer te gaan kyk, waarna hy die telefoon neergesit het. Teen Woensdagoggend was al die plakkers steeds op hul plekke, selfs die man wat in die tent in die parkie bly.

 

Written by

Isabel Venter

Isabel joined the Zoutpansberger and Limpopo Mirror in 2009 as a reporter. She holds a BA Degree in Communication Sciences from the University of South Africa. Her beat is mainly crime and court reporting.

 

ADVERTISEMENT:

 

Recent Headlines