

ADVERTISEMENT:

News Date: 02 September 2011
‘n Tuin vol stof, ‘n huis vol stof en voertuie vol stof … dit is hoe inwoners van ‘n gedeelte van Elandstraat in Louis Trichardt die afgelope twee maande geleef het. Nou hoop hulle dat die straat se teerdery verder ‘n sukses sal wees.
“Twee maande gelede is die teer uit die pad opgeruk met ‘n padskraper. Toe is dit platgemaak en net so gelos,” vertel een inwoner.
Me. Suzette Swanepoel woon in Elandstraat, tussen Akasia- en Proteastraat. “Ons het versuip in die stof. Ons het dit naderhand oorweeg om te trek, omdat dit nie gelyk het of daar enige poging aangewend word nie,” sê Swanepoel.
Sy vertel dat die eerste week ná die skraap, daar vrouens was wat die pad gevee het en vragmotors wat die pad natgemaak het. Maar toe stop dit. Die tuine het vol dik lae stof gelê. Hulle moes die plante afspuit en onnodig water gebruik. "In die huis kon die huishulp nog afstof, maar oor ‘n uur kon jy jou vinger deur die stof trek. Jy kon die voertuie nou skoonmaak, en as jy tot by die hoek gery het, was hulle weer vol stof. As drie karre agtermekaar ry, kon jy nie eers die huis oorkant jou sien nie."
“Tot ons huis se dak is vol stof. In die twee maande het ek nie gesien dat hier mense aan die pad werk nie,”sê mnr. Lulama Manganyi.
Intussen het die Makhado Munisipaliteit bevestig dat die kontrakteur nog op terrein is.
Die kontrakteur is Fusi-Tondi Trading, een van die 27 kontrakteurs wat die tenders gekry het om verskillende gedeeltes van die dorp se strate te herstel. Die meerderheid van die strate wat geoormerk is vir herstel, is in die nuwe uitbreiding, oos van die N1 geleë.
Swanepoel sê dat hulle Maadagaand om 18:30 gehoor het dat daar iets in die straat gebeur. “Hulle het begin om ‘n stukkie van die straat met die hand met teer te bespuit. Hulle het begin lewe kry!” sê Swanepoel.
Nog ‘n inwoner wat die straat gereeld gebruik en anoniem wil bly, het egter se kommer uitgespreek oor die pad. “Ek is self in konstruksiewerk. Die grondwerke is swak gedoen. Hulle is tans besig om te prime net voor hulle dit teer. Dit is swak gedoen en die pad gaan nie lank hou nie. Ons sal maar kyk as hulle klaar geteer het,” het hy gesê. Verkeersbeheer met die teer van die straat skiet ook ver tekort. Dinsdagmiddag, met die primêre laag teer nog nat, is voertuie toegelaat om daaroor te ry.
Die groot vraag was waarom dit solank geneem het vir die pad om geteer te word. Munisipale woordvoerder mnr. Louis Bobodi het Dinsdagaand per SMS ‘n rede aangevoer. “Dit is omdat hy (die kontrakteur) besig was om die basis voor te berei. Dit neem tyd en dit is ‘n reuse taak,” het Bobodi laat weet.
Op 6 Junie het die Makhado Munisipaliteit gesê dat die 27 kontrakteurs gelyktydig werk en dat al die projekte teen die einde van Junie vanjaar afgehandel sal wees. Dit is nou al September en steeds is die werk nie klaar nie.
Linda van der Westhuizen has been with Zoutnet since 2001. She has a heart for God, people and their stories. Linda believes that every person is unique and has a special story to tell. It follows logically that human interest stories is her speciality. Linda finds working with people and their leaders in the economic, educational, spiritual and political arena very rewarding. “I have a special interest in what God is doing in our town, province and nation and what He wants us to become,” says Linda.

ADVERTISEMENT:
