ADVERTISEMENT:

 

Ongelukkigheid na "interlaer" gekanselleer word

 

News  Date: 13 February 2004

 

MAKHADO (LOUIS TRICHARDT) – Die gebruiklike vriendskaplike interlaer atletiekbyeenkoms wat jaarliks tussen die Laerskole Louis Trichardt, Soutpansberg, Messina, Levubu, Bergvlam en Tshikondeni plaasvind, is gekanselleer.

Die gasheerskool vir vanjaar se byeenkoms, Laerskool Louis Trichardt, sê in 'n mediaverklaring dit is betreurenswaardig dat die byeenkoms gekanselleer moes word. "As gasheer van die byeenkoms het ons egter geen keuse gehad nie," lui die verklaring.

Die skoolbestuur sê aangesien Soutpansberg en Levubu aangedui het dat hulle nie gaan deelneem nie, die tyd en koste wat die aanbieding van so 'n byeenkoms verg, nie geregverdig kan word as net twee skole (Louis Trichardt en Messina) daaraan deelneem nie.

Mnr. Servaas James van Laerskool Messina, voorsitter van Laerskole Atletiek, Rugby en Krieket, sê in 'n skriftelike verklaring: "Hierdie een byeenkoms, wat aan ons laerskool leerlinge geleentheid bied om op 'n georganiseerde byeenkoms deel te neem, is gekanselleer.

"Dit is jammer dat skole hierdie geleentheid van ons kinders ontneem. Ons as onderwysers neem 'n besluit wat ons kinders deelname ontsê. As ons besluit dat ons nie teen mekaar deelneem op die atletiekbaan nie, moet ons besef wat ontsê ons ons kinders as dit ook verder uitkring na netbal, krieket, tennis, swem en dies meer. Ons geleenthede is so min hier in die Noorde."

Mnr. James sê hy dink bestuursliggame moet standpunt inneem. Hulle is die mense wat besluit oor die buite-kurrikulêre programme by skole. Hulle verteenwoordig die ouers wie se kinders die voorregte ontneem word. Die keuse van deelname berus by die ouers en geen onderwyser kan hul kinders hierdie voorreg ontneem nie.

Mnr. John Whiteley, skoolhoof van Soutpansberg Laerskool, het by navraag gesê dit sou nie billik wees om die indruk te skep dat sy skool verantwoordelik is vir die kansellering van die byeenkoms nie. Hy het nie op kort kennisgewing onttrek nie. Hy sê hy het dit deurgaans duidelik gestel dat sy skool nie aan vanjaar se byeenkoms gaan deelneem nie. Hy het die organiseerders van die byeenkoms weer vroeg in Januarie in kennis gestel dat sy skool nie vanjaar se byeenkoms sal bywoon nie.

"Ons is genooi en het die uitnodiging van die hand gewys."

Die feit dat die byeenkoms beplan is op 'n skooldag, was deurslaggewend vir sy skool en vir Levubu. Verskeie kring-, area- en sone-byeenkomste in die nuwe bestel van skolesport was reeds gereël en het meegebring dat leerlinge reeds verskeie skooldae moes inboet.

Mnr. Whitely sê dit is nie korrek om na die gekanselleerde byeenkoms te verwys as "die jaarlikse interlaer-ateletiekbyeenkoms" nie. Dit is bloot 'n oorblyfsel uit 'n vorige bedeling van blanke- en swart skole. Deelname daaraan is nie verpligtend of vanselfsprekend nie en dit kan hoogstens as 'n tradisionele vriendskaplike byeenkoms tussen die betrokke skole beskou word. Hy sê elke skool is self verantwoordelik om geleenthede tot deelname vir sy leerlinge te skep. Sy skool se leerlinge het vanjaar al reeds aan ses verskillende byeenkomste deelgeneem, waaronder vriendskaplike ontmoetings sowel as kring en area-byeenkomste. In een vriendskaplike ontmoeting het sy skool saam met net een ander skool deelgeneem. Hy kan geen rede sien waarom die vriendskaplike byeenkoms wat deur Laerskool Louis Trichardt gereël is, nie kon voortgaan nie.

 

Written by

 

ADVERTISEMENT:

 

Recent Headlines