

ADVERTISEMENT:

News Date: 09 September 2011
CoAL of Africa Limited (CoAL) het verlede week nog ‘n tree nader gekom aan die realisering van hul Vele-steenkoolprojek met die ondertekening van ´n ooreenkoms met die Departement van Omgewingsake en die Suid-Afrikaanse Nasionale Parke (SANParke). Dié projek is ´n hanetreetjie van die Wêreld Erfenisgebied, Mapungubwe, geleë.
Die ooreenkoms vorm deel van die voorwaardes verbonde aan CoAL se omgewingsmagtigingpermit wat in Julie vanjaar deur die department aan hulle toegestaan is en sal help om Mapungubwe se erfenis te bewaar vir die nageslag.
Tydens ‘n mediakonferensie in Pretoria verlede Donderdag het die departement se woordvoerder, mnr. Albi Modise, gesê dat die ooreenkoms daarna streef om ´n balans tussen ekonomiese ontwikkeling en omgewingsbewaring te bewerkstellig. Luidens die ooreenkoms sal die drie partye die bestuur van natuurlike en kulturele hulpbronne bevorder.
Hierdie standpunt is deur CoAL se uitvoerende hoof, mnr. John Wallington, beaam. Wallington het bygevoeg dat daar die afgelope jaar groot veranderings binne CoAL plaasgevind het. Volgens hom het CoAL gegroei van ‘n junior prospekteer-maatskappy tot ‘n volskaalse mynmaatskappy wat nou beskik oor die kennis en vaardighede om op ‘n volhoubare wyse te myn. ‘n Bewys hiervan, het hy gesê, is die memorandum, wat ´n eerste van sy soort is.
Ten spyte daarvan dat die myn nog wag vir die Minister van Waterwese om ‘n besluit te neem oor CoAL se opgeskorte geïntegreerde waterlisensie, het Wallington die hoop uitgespreek dat Vele operasioneel sal wees “binne die volgende paar weke.”
Dié opskorting van die waterlisensie volg na ‘n appèl wat deur die Save Mapungubwe-koalisiegroep in Julie vanjaar ingedien is by die Departement van Waterwese. Die koalisie is ook besig om teen CoAL se mynlisensie te appelleer.
Isabel joined the Zoutpansberger and Limpopo Mirror in 2009 as a reporter. She holds a BA Degree in Communication Sciences from the University of South Africa. Her beat is mainly crime and court reporting.

ADVERTISEMENT:
