ADVERTISEMENT:

 

Die tru-grawer waarvan daar, volgens die vroulike bestuurder, nie foto's geneem mag word nie.

Talle vrae nadat tru-grawer omslaan

 

News  Date: 09 September 2011

 

Teenstrydig met hul beleid as dit kom by rommelstorting, is ‘n munisipale werker Dinsdagoggend betrap waar sy besig was om onwettig rommel te begrawe in die park tussen Eltivillas en die N1.

Die groot drama het egter gekom toe die munisipale werker agter die stuur van die tru-grawer daarin kon slaag om die massiewe masjien, waarmee sy besig was om ´n sloot te grawe vir die rommel, te laat omslaan. Die munisipale werker het glo opdrag ontvang om ‘n gat oop te maak en al die massas brandende vullis daarin te stoot en die gat dan weer toe te maak.

Met die Zoutpansberger se aankoms op die toneel het die munisipale werker saam met haar toesighouer langs die grawer gestaan en wag vir hulp. DIe hel het losgebars toe die koerant probeer het om foto´s te neem van die ongeluk.

Die vroulike bestuurder van die tru-grawer het terstond ‘n aggressiewe houding teenoor die koerant se joernaliste ingeneem en geskreeu dat daar geen foto´s geneem mag word nie. Dit was ten spyte van munisipale woordvoerder mnr. Louis Bobodi se telefoniese toestemming dat foto´s wel geneem kan word.

“As julle die foto neem, sal ek julle wys vandag!” het die histeriese vrou geskreeu.

Dit is blykbaar nie die eerste "ongeluk" en "bekgeveg" met lede van die publiek waarin dié vrou betrokke was nie. Haar optrede het vrae laat ontstaan oor haar bevoegdheid om die tru-grawer te bestuur. ‘n Paar maande gelede het die einste vrou oorhoofse kragdrade in Louis Bothastraat met die tru-grawer per ongeluk afgeruk. Nie lank daarna nie het sy ´n waterpyp in Bredastraat stukkend gekap terwyl sy besig was om ´n sloot te grawe. Elke keer moes die skade wat sy aangerig het op die belastingbetaler se koste herstel word.

Benewens die vrou se bevoegdheid, was die groot vraag ook of die munisipaliteit dit goedkeur dat vullis bloot in slote in parke gestort en dan toegestoot word. Bobodi het Woensdag per e-pos gesê dat dit nie toelaatbaar is om rommel in die dorpsgebied te begrawe nie en dat hulle hierdie praktyk sal ondersoek.

Op ´n vraag oor die vroue bestuurder se bevoegdheid het Bobodi gesê sy het die nodige opleiding in Johannesburg ontvang - ´n twee-week-lange kursus. Hy het nie reageer op ´n vraag of daar na aanleiding van die jongste "ongeluk" tugstappe teen die vrou geneem sal word nie. Hy het haar aksies verdedig deur te sê dat dit moeilik is om te bepaal wat onder die grond aangaan en dat “peutering met ondergrondse dienste nie ‘n misdryf is nie.”

Wat betref die vrou se optrede teenoor die media het Bobodi gesê dat die munisipaliteit die bewering sal ondersoek om tot “die kern van die saak te kom.”

Bobodi kon nie sê hoeveel die skade aan die tru-grawer hierdie keer die belastingbetaler uit die sak gaan jaag nie.

 

Written by

Isabel Venter

Isabel joined the Zoutpansberger and Limpopo Mirror in 2009 as a reporter. She holds a BA Degree in Communication Sciences from the University of South Africa. Her beat is mainly crime and court reporting.

 

ADVERTISEMENT:

 

Recent Headlines