

ADVERTISEMENT:

News Date: 16 September 2011
Dit is amptelik – daar is geen noemenswaardige toename in plaaslike moordsyfers vir die afgelope oorsigtydperk wat van 1 April 2010 tot 31 Maart 2011 strek nie. Dit aldus die polisie.
Daar is ook ‘n afwaartse neiging in diefstal en huisbraak in Louis Trichardt en die omliggende omgewing.
Dit is die situasie volgens die jongste misdaadstatstieke vir 2010/11 wat verlede week deur die minster van polisie, Nathi Mthethwa, bekendgemaak is. Die styging in dwelm- en seksuele misdrywe, asook veediefstal, in die streek is egter kommerwekkend.
Veral in Louis Trichardt het seksuele misdrywe ‘n kommerwekkende toename getoon. Dit het van 34 tot 40 gevalle in die oorsigtydperk gestyg, terwyl Levubu en Musina se syfers ‘n klein afname toon. Levubu se syfers daal van 66 na 50 en Musina van 96 na 75. In die vorige jare het hierdie syfers wipplank gery vir al drie polisiëringsgebiede.
Alhoewel dwelmmisdrywe in Musina en Levubu afgeneem het, het dit onrusbarend toegeneem in Louis Trichardt. Plaaslik styg dwelmsake van 44 tot 66 gevalle in die oorsigtydperk. In Musina het dieselfde soort sake gedaal van 83 na 52 en in Levubu van 139 na 111.
Veediefstal vir al drie stasies het in hierdie jaar toegeneem en, gemeet aan die provinsiale toename, is dit ´n terrein waar die polisie tekort skiet. In Louis Trichardt styg veediefstalgevalle van 23 na 25, terwyl Musina ‘n toename toon van 5 na 9 gevalle. Levubu se gevalle styg van 8 na 12. Vir die hele Limpopo provinsie is daar in hierdie jaar tot einde Maart 111 meer gevalle as die vorige jaar aangemeld.
Gewone roof, daarenteen, het ‘n konstante afwaartse neiging gehandhaaf sedert 2003/4. Vir die tydperk tot einde Maart vanjaar het gewone roof van 50 gevalle gedaal na 47 in Levubu. In Musina het roof ook gedaal van 85 tot 53 gevalle, terwyl Louis Trichardt se syfers egter ‘n toename getoon het van 42 tot 59. In 2003/4 was die syfers dikwels ‘n drie-syfer-getal gewees.
Gewone huisbrake het ook ‘n afwaartse neiging getoon, alhoewel die huidige jaar se syfers hoër is as 2008/9 se statistiek. In Maart hierdie jaar daal gewone huisbraak van 204 na 192 gevalle in Louis Trichardt. In Musina het huisbrake ook gedaal van 268 na 234, terwyl Levubu se syfers met net een syfer gedaal het na 154 gevalle.
Volgens Mthethwa se verslag kan die afname in geweldsmisdade en inbrake toegeskryf word aan ´n "hoë vlak van polisie-sigbaarheid gedurende die eerste kwartaal van 2009/10" as gevolg van nasionale gebeure soos die Wêreld Sokker Beker-toernooi.
Isabel joined the Zoutpansberger and Limpopo Mirror in 2009 as a reporter. She holds a BA Degree in Communication Sciences from the University of South Africa. Her beat is mainly crime and court reporting.

ADVERTISEMENT:
