ADVERTISEMENT:

 

Mnr. Frans van Heerden by die massiewe klip wat booswigte gebruik het om die winkelvenster by Super Cycles Dinsdagoggend uit te gooi en sodoende toegang tot die winkel te kry.

Winkels geplunder ná klippe deur vensters

 

News  Date: 16 September 2011

 

Kort na die nasionale misdaadstatistieke aangetoon het dat inbrake aan die afneem is, is twee besighede op Louis Trichardt Dinsdagoggend (13 September) beroof.

Beide Musica in Kroghstraat en Super Cycles in Songozwistraat was die slagoffer van booswigte wat die vertoonvensters met klippe uitgegooi het om toegang tot die winkels te verkry.

Volgens die areabestuurder van Musica, mnr. Wellington Kunene, wil dit voorkom of die inbrekers hulle meestal toegespits het op musiek en elektroniese speletjies.

“Die hartseer is dat die rowers die CD’s vir ‘n appel en ei gaan verkoop,” het hy gesê.

Kunene kon teen druktyd nie bevestig hoeveel skade die diewe aangerig het nie, aangesien die personeel nog besig was met ‘n voorraadopname.

Die inbraak en roof by Super Cycles het min of meer op dieselfde wyse geskied. Die inbrekers het ‘n groot klip gebruik om een van die vensters stukkend te gooi en die veiligheidstralies aan die binnekant oop te buig. Eienaar mnr. Japie van Heerden het Dinsdag gesê die winkel se alarm het ongeveer om 01:00 afgegaan.

“Toe die sekuriteitsman voor die winkel gestop het, het daar, volgens hom, ‘n klomp jong kinders uit die winkel gepeul en in die bosse langsaan verdwyn,” sê Van Heerden.

Volgens Van Heerden het die polisie opgedaag en saam met hom die bosse deursoek. Teen daardie tyd het die rampokkers hulle lankal uit die voete gemaak. Al wat hulle teruggekry het, was stukke van sy kasregister en ´n T-hemp drukker. Die buislig wat die booswigte ook vasgelê het, kon nie opgespoor word nie.

“Dit lyk of die inbrekers goed probeer vat het wat hulle maklik kan verkoop,” het Van Heerden gesê.

Hy het die skade aan die gesteelde goedere op sowat R7 000 bereken. Teen druktyd was die skade aan die winkelvenster nog nie bekend nie.

Plaaslike polisiewoordvoerder kapt. Maano Sadike het Woensdag bevestig dat daar twee sake van huisbraak by ‘n besigheidperseel ondersoek word. Nog geen arrestasies is gemaak nie.

 

Written by

Isabel Venter

Isabel joined the Zoutpansberger and Limpopo Mirror in 2009 as a reporter. She holds a BA Degree in Communication Sciences from the University of South Africa. Her beat is mainly crime and court reporting.

 

ADVERTISEMENT:

 

Recent Headlines